---
title: Middeleeuse kasteel
author: Mark Cartwright
translator: Eduan Naudé
source: https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17024/middeleeuse-kasteel/
format: machine-readable-alternate
license: Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike (https://creativecommons.org/licenses/by-nc-sa/4.0/)
updated: 2020-10-23
---

# Middeleeuse kasteel

Auteurs deur [Mark Cartwright](https://www.worldhistory.org/user/markzcartwright/)_
Vertaal deur [Eduan Naudé](https://www.worldhistory.org/user/eduanhnaude)_

Middeleeuse kastele is vanaf die 11de eeu HJ gebou sodat heersers hulle mag en rykdom aan die plaaslike bevolking kon vertoon, om 'n plek vir verdediging en veilige toevlug in geval van 'n aanval te bied, om strategies belangrike liggings soos rivierkruisings, 'n deurgang deur heuwels, berge en grense te verdedig, en om as woonplek te dien. Hetsy 'n permanente tuiste vir 'n plaaslike landheer of 'n tydelike woning vir 'n heerser wat 'n reis deur die koninkryk onderneem het, is kastele van hout na klip omgebou en het dit al indrukwekkender strukture met meer en meer defensiewe kenmerke soos ronde torings en gefortifiseerde poorte geraak.

### Ontwikkeling

'n Goeie ligging vir 'n kasteel was op 'n natuurlike verhewenheid naby 'n krans, in die waai van 'n rivier of waar ouer fortifikasies soos Romeinse mure weer dienstig aangewend kon word. Kastele het hul eie water- en kosvoorraad en gewoonlik 'n permanente beskermingsmag benodig – bykomende faktore wat in ag geneem moes word tydens die kies van 'n ligging.

Kastele was 'n duur onderneming wat jare kon neem om af te handel. 'n Meestermesselaar wat ook die argitek was, het aan die stuur gestaan van 'n span van honderde vaardige werkers wat gewissel het van skrynwerkers, ystersmede en dykspesialiste, tot gewone arbeiders. Vervoer van materiaal was die grootste uitgawe en daarom was 'n plaaslike steengroef 'n groot voordeel.

Die vroegste vorm van die kasteel was 'n eenvoudige houtpalissade – moontlik met grondwerk– wat 'n kamp omring het, in die middel waarvan daar soms 'n permanente houttoring was. Dit het toe ontwikkel tot die burgheuwel-en-binneplaaskasteel – 'n muur wat 'n oop ruimte of binneplaas omring, en 'n natuurlike of kunsmatige heuwel met 'n houttoring daarop gebou. Vanaf die 11de eeu HJ was dit veral gewild onder die Normandiërs.

In die volgende stadium van ontwikkeling is 'n buitemuur van klip bo op die heuwel gebou sodat dit as 'n “manteltoring” bekend gestaan het. In die 12de eeu HJ is die buitemuur en sentrale hooftoring uiteindelik ook van klip gebou, maar gewoonlik nie op die burgheuwel self nie aangesien dit nie stabiel genoeg was om as fondament vir so 'n swaar struktuur te dien nie. Trouens, 'n heeltemal nuwe ligging kon moontlik verkies of vereis word en die voorkeurfondament was bodemrots wat enige ondermyning deur 'n aanvallende mag sou voorkom. Die burgtoring het 'n allerbekende kenmerk van kastele geraak, alhoewel dit voor die 16de eeu HJ 'n *donjon* (van die Franse woord wat “heer” beteken) genoem is. Gewoonlik was daar drie of meer verdiepings (burgtoring); sommiges was laer en is 'n “burgsaal” genoem. Die burgtoring was die hart van die middeleeuse kasteel en die laaste toevlugsoord in geval van 'n aanval of beleg. Voordat aanvallers egter die burgtoring kon bereik, moes hulle eers 'n rits verdedigingskenmerke te bowe kom.

### Kenmerke

Tipiese kenmerke van 'n middeleeuse kasteel was:

- **Grag** – 'n sloot aan die buiterand, met of sonder water
- **Buitewerk** – 'n fortifikasie om die poort te beskerm
- **Weermure en torings** – die defensiewe perimetermuur
- **Gefortifiseerde poorthuis** – die kasteel se hoofingang
- **Burgtoring** (ook bekend as die *donjon* of “groot toring”) – die grootste toring en beste vesting van die kasteel
- **Binneplaas** – die gebied binne die weermuur

### Grag

'n Kunsmatige sloot of grag is gegrawe om die hele kasteelkompleks te omsluit en kon permanent of in sommige gevalle tydens 'n aanval tydelik met water gevul word. Aangesien die skep van 'n grag 'n enorme onderneming was, was die teenwoordigheid van natuurlike hoogtes en depressies in die landskap belangrike faktore om in ag te neem wanneer die ligging gekies is waar 'n kasteel gebou moes word. Die grond of klip wat tydens voorbereiding van die grag uitgegrawe is, kon gebruik word om die heuwel of bult op te bou waarop die kasteel later opgerig word. Die grag is diep genoeg gemaak om aanvallers te voet, te perd of toegerus met belegtorings te belemmer. Die kante was steil en houtpale kon daarin ingedryf word om dit gladder te maak. Skerpgemaakte houtpale kon ook in die bodem van die grag geplaas word om deurgang verder te verhinder. Indien die grag met water gevul is, hoef die water slegs 'n halwe meter diep te wees om die vyand se weg te versper en hulle kwesbaarder te maak vir projektiele wat vanaf die mure bo hulle geskiet is.

[ ![Caerphilly Castle](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/8754.jpg?v=1774573652) Caerphilly -kasteel Nathan Reading (CC BY-NC-ND) ](https://www.worldhistory.org/image/8754/caerphilly-castle/ "Caerphilly Castle")### Buitewerk

Die buitewerk was 'n defensiewe fortifikasie wat gebou is om potensiële swakpunte soos 'n poort te beskerm. Dit het gewoonlik uit 'n kort stuk gefortifiseerde muur bestaan, moontlik in échelonsvorm, en het die verdedigers in staat gestel om 'n direkte aanval op die muur of poort self af te weer. Die buitewerk kon deur dekvuur vanaf die torings daaragter beskerm word, en is soms deur sy eie muur en/of sloot (met meegaande ophaalbrug of swaaibrug) omring wanneer dit as 'n “binneplaasbuitewerk” bekend gestaan het. Die loopgangbuitewerk was nog 'n soort buitewerk en was soortgelyk aan 'n gefortifiseerde deurgang wat van 'n poort af uitwaarts lei. Teen die middel 13de eeu HJ is buitewerke verder terug van die buitemuur af gebou, teen 'n hoek met die poort. Dit het 'n 90°-draai (tussen die ingang en die uitgangsbrûe) geïnkorporeer om toegang tot die kasteel self verder te belemmer.

### Weermure en torings

Mure wat die kasteel self omring het, het 'n formidabele uitdaging vir aanvallers gebied. Indien die fondament nie uit rots bestaan het nie, moes dit spesiaal voorberei word om die geweldige gewig te kon dra. Die algemeenste metode was om 'n sloot breër as die muur te grawe en dit met vasgestampte ru-klip te vul. As alternatief kon heipale in die grond ingedryf word om dit stabieler te maak. Die dikte van mure het verskil maar die gemiddelde dikte was blykbaar ongeveer 2,5 m. Sommiges was dik genoeg om gange en muurskilderwerk te bevat. Die meeste mure het uit twee lae bewerkte klip bestaan wat 'n kern bestaande uit ru-klip en mortel bedek het. Om ondermyning en bestyging te voorkom, kon sowel mure as torings op 'n afgeskuinste keermuur gebou word, of 'n afgeskuinste beskermende weermuur kon later bygevoeg word. Hierdie skuinste kon ook nuttig wees indien projektiele ondertoe na die vyand gegooi is aangesien die projektiele teen 'n onvoorspelbare hoek sou wegskram.

Met 'n parapet bestaande uit kantele (ook bekend as borswering) aan die bokant van die mure, kon verdedigers agter die verhewe dele van die muur (kanteeltande) skuil wanneer nodig en dan hul pyl-en-boë en kruisboë deur die laer dele (kanteelkepe) skiet, en sodoende blootstelling aan vyandelike projektiele verminder. Kantele kon ook beskerm word deur houtluike met skarniere wat laat sak kon word wanneer 'n boogskutter 'n pyl wou skiet. Mure het verhewe interne platforms gehad waarlangs verdedigers kon loop terwyl die binnekant van die mure gewoonlik oop gelos is ingeval die vyand daardeur breek en dit gebruik is om verdere aanvalle op die binneste fortifikasies te loods.

Torings is by mure gevoeg sodat verdedigers vanuit verskeie hoeke op die vyand kon afskiet. Die vorm van torings het van vierkantig na D-vormig (ongeveer vanaf die 1180's HJ) ontwikkel, en toe rond wat 'n groter skoottrefafstand gegee en die blindekolle by hoeke uitgeskakel het. Oorhangtorings het verdere moontlikhede gegee om die vyand te bestook terwyl hulle probeer het om die mure óf te bestyg óf te ondermyn. Ronde torings was ook struktureel stabieler en was beter bestand teen pogings om dit inmekaar te laat tuimel deur dit óf te ondermyn óf deur klippe met werktuie uit te kap (hoeke was 'n gunstelingteiken vir sappeurs). Geronde torings het die bykomende voordeel gehad dat dit artillerieprojektiele soos swaar klippe beter kon deflekteer. Indien die vyand daarin sou slaag om een deel van die muur te bestyg, het die torings 'n toevlug vir die verdedigers gebied van waar hulle hul pyle kon aanhou skiet. Boogskutters kon deur nou vertikale gleuwe in die klipwerk skiet wat wyer na binne raak om sodoende 'n beter skootsveld te gee. 'n Klein horisontale gleuf is later bygevoeg om die skootsveld nóg groter te maak.

[ ![Plan of Harlech Castle](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/11522.jpg?v=1704288849-1689624085) Plan van Harlech -kasteel Cadw (Open Government License) ](https://www.worldhistory.org/image/11522/plan-of-harlech-castle/ "Plan of Harlech Castle")Soos die ontwerp van kastele verder ontwikkel het, het 'n binneste reeks mure 'n algemene kenmerk geraak – die konsentries ommuurde kasteel. Nou moes aanvallers deur twee mure breek, en indien hulle wel deur die eerste muur gebreek het, was hulle uiters blootgestel aan vuur vanaf die selfs hoër binnemuur terwyl hulle die oopte (binnewerf) tussen die twee verdedigingslinies oorsteek. Ondergrondse tonnels is soms gegrawe om die twee stelle muur te verbind, en om 'n ontsnappingsroete na buite die kasteel te verskaf; 'n uitvalspoort kon deur die verdedigers gebruik word om aanvallers van agter af aan te val en die bordjies te verhang.

Vanaf die 15de eeu HJ, toe veldslae hoofsaaklik in die oopte geveg is en kasteeloorlogvoering afgeneem het, het kastele voortgegaan om hulle tradisionele defensiewe kenmerke te inkorporeer maar dié was toe merendeels simbolies en net vir die skyn. Imponerende torings en kantele het maklik herkenbare simbole van mag geraak en is dus by groot landhuise gevoeg, en selfs by sulke vreedsame institusionele geboue soos kerke en universiteite.

### Gefortifiseerde poorthuis

Die hoofhek van 'n kasteel was potensieel een van die kasteel se swakste punte en weens hierdie rede is poorte algaande meer en meer met beskermende kenmerke toegerus. Vanaf die einde van die 12de eeu HJ is tweelingtorings gebou, met die poort ingespronge, en ingeslote tussen die torings. Die poort self is beskerm deur 'n swaar houtdeur en 'n valpoort (of selfs twee) – 'n rooster van metaal en hout wat laat sak kon word om toegang te blokkeer. Daar kon moontlik ook 'n ophaalbrug wees wat met kettings opgehys of – die vinniger weergawe – 90° gedraai kon word. Dit beteken die vyand moes hulle weg deur 'n sloot of watergevulde grag baan voordat hulle die werklike poortopening bereik. Bykomende defensiewe maatreëls het “moorgate” (kanteeloorhange) ingesluit – gate in oorhangende borswering bo die ingangspoort waardeur projektiele of brandende vloeistof gegooi kon word. Insgelyks het 'n watergeut die verdedigers in staat gestel om enige brande te blus wat die aanvallers teen die kwesbare houtdeur gestig het.

[ ![Gatehouse, Chepstow Castle](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/8753.jpg?v=1716583623) Gatehuis, Chepstow Castle Damian Entwistle (CC BY-NC-SA) ](https://www.worldhistory.org/image/8753/gatehouse-chepstow-castle/ "Gatehouse, Chepstow Castle")Mettertyd, soos wat poorthuise merkwaardige sterk- eerder as swakpunte geraak het, is dit selfs as woning gebruik, veral deur die kastelein, wat in beheer was van die kasteel se daaglikse bestuur. Sommige poorthuise het ook kerkers daaronder gehad, sowel as kamers in die boonste vloer vir die meer gesiene gevangenes wat vir 'n losprys aangehou is. 'n Kapel kon moontlik ook in die poorthuis geïnkorporeer word. Soms het groter kastele ook 'n tweede gefortifiseerde poort (gewoonlik aan die teenoorstaande kant van die ringmuur se hoofpoort) gehad, sowel as een of meer klein hekkies of agterhekke om in 'n noodgeval toegang aan 'n enkele persoon te verleen.

### Burgtoring

Die burgtoring of *donjon* was 'n toringgebou met verskeie verdiepings met buitengewoon dik mure en 'n goedbeskermde ingang wat dit tydens 'n aanval die veiligste plek in die kasteel gemaak het. Dit het in die vroeë 12de eeu HJ by die meeste kastele begin verskyn. Burgtorings kon vierkantig of reghoekig wees en het dikwels hul eie torinkies of oorhangtorings bo op gehad; sommiges was rond en het houtskutwerk rondom die bokant gehad om as bedekte skietplatforms te dien. Buiten 'n hipotetiese toevlugsoord was hierdie imponerende strukture, wat in sommige gevalle tot 40 m hoog kon wees (alhoewel ongeveer 20 m algemener was), 'n nuttige aanduiding van 'n plaaslike landheer of soewerein se mag. Duur om te bou, is burgtorings teen die 13de eeu HJ algaande met groter ronde torings in die ringmuur vervang as wat voorheen die geval was.

[ ![Pembroke Castle Keep](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/8736.jpg?v=1765759451) Pembroke Castle Keep Mario SÃ¡nchez Prada (CC BY-SA) ](https://www.worldhistory.org/image/8736/pembroke-castle-keep/ "Pembroke Castle Keep")Soos met enige gebou, was die ingang die swakpunt van 'n kasteel se burgtoring; derhalwe is toegang hiertoe dikwels verkry deur middel van 'n trap wat direk na die eerste verdieping (m.a.w. bo die grondverdieping) lei. By vroeë kastele kon die trap verwyder word indien nodig. Later het dit permanent geraak maar is wel beskerm deur 'n eie deurgang met torings wat teen die kant van die burgtoring bygevoeg is (voorburg). Die voorburg is soms van die burgtoring geskei deur middel van 'n ophaalbrug, valpoort en sloot. 'n Baie groot versperde deur was die laaste maar steeds formidabele struikelblok vir aanvallers wat daarin kon slaag om so ver te kom. Al het soldate die binnekant van die burgtoring bereik, moes hulle hul pad teen die nou spiraaltrappe op veg na elke daaropvolgende verdieping; soms moes hulle 'n hele verdieping oorsteek om die trap na die volgende vlak te bereik.

Dakke was gewoonlik van hout gemaak en het skerp hoeke gehad. Die buitenste oppervlak van die dak is deur dakspane, teëls, leistene, dekriet of loodbekleding beskerm. Hout- of looduitgevoerde dreineringskanale, -pype en -uitsteekklipspuite het verseker dat reënwater nie versamel of die klipwerk van die gebou beskadig nie.

Die kelder van die burgtoring is gewoonlik gebruik om lewensmiddele, wapentuig en toerusting te berg. Daar was gewoonlik 'n diep put om drinkwater te voorsien, en dit kon aangevul word deur water wat opgevang en direk na 'n sisterne herlei is. Op die grondverdieping was die kombuise en soms ook stalle. Die eerste verdieping het gewoonlik 'n heersersaal vir bankette en oudiënsies bevat. Die heersersaal was 'n vertrek wat ontwerp is om te beïndruk en dikwels het dit met 'n pragtige houtbalkplafon of indrukwekkende klipgewelwe, groot vensters (wat na die veilige binnekant van die kasteel oopgemaak het) en 'n deftige kaggel gespog. Op hierdie verdieping, en moontlik ook op die een daarbo, was privaat kamers en gewoonlik ook 'n kapel. Die doel van die boonste verdieping – soms die “bovertrek” of “sonkamer” genoem aangesien dit veilig genoeg was om groter vensters te hê – is onbekend. Verhitting is deur middel van kaggels of draagbare vuurpanne verskaf terwyl vensters met houtluike toegerus is om die hitte binne te hou wanneer dit vereis is.

### Binneplaas

Buiten die burgtoring kon daar verskeie ander geboue in die binneplaas wees, soos graanskure, werkswinkels (vir ystersmede, skrynwerkers, wewers en pottebakkers), 'n provisiekamer (vir die stoor van wyn en bier), stalle, sekondêre akkommodasie, en moontlik plek vir jaghonde en -voëls in die geval van 'n groter kasteel. Hierdie strukture is met klip gebou, of in eenvoudiger gevalle met mure van paal en klei, en 'n dak van dekriet. Om 'n groter mate van selfgenoegsaamheid tydens 'n beleg te verseker, was daar tuine binne die beskerming van die binneplaas, sowel as ruimte vir vee en pluimvee. By groter kastele is hier ook 'n sekondêre kapel aangetref.

Laastens, 'n opmerking oor toilette. Die latrines van 'n kasteel het gewoonlik die bou van 'n messelwerkskag behels wat langs 'n deel van die buitemuur af uitgebou is, sodat die ontlasting direk in die sloot of die grag buite val. Toilette het 'n eenvoudige houtsitplek met 'n gat daarin gehad; sommiges was privaat met hul eie deur terwyl ander bloot 'n reses in die muur was. Driehoekige urinale is in die mure van sommige torings gebou sodat verdedigers nie hul pos vir te lank hoef te verlaat nie. Dit wil voorkom of argitekte selfs sulke basiese menslike aktiwiteite beskou het as die kasteel se beste moontlike verdediging teen enigeen in enige situasie.

#### Editorial Review

This human-authored definition has been reviewed by our editorial team before publication to ensure accuracy, reliability and adherence to academic standards in accordance with our [editorial policy](https://www.worldhistory.org/static/editorial-policy/).

## Bibliografie

- [Creighton, O.H. *Castles and Landscapes.* Equinox Publishing, 2004.](https://www.worldhistory.org/books/1904768679/)
- [Gies, J. *Life in a Medieval Castle.* Harper Perennial, 2015.](https://www.worldhistory.org/books/0062414798/)
- [Gravett, C. *Norman Stone Castles.* Osprey Publishing, 2018.](https://www.worldhistory.org/books/B01FGLO3MI/)
- [Phillips, C. *The Medieval Castle Manual.* Haynes Publishing UK, 2018.](https://www.worldhistory.org/books/1785211471/)
- [Pounds, N.J.G. *The Medieval Castle in England and Wales.* Cambridge University Press, 1993.](https://www.worldhistory.org/books/0521458285/)

## Oor die Skrywer

Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

## Tydlyn

- **967 CE**: The castle of Baños de la Encina, Jaén, Spain is built by the Moors.
- **c. 1000 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is built at Ivry-la-Bataille Castle, Normandy, France.
- **c. 1000 CE**: The castle and [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) of Langeais, central France, are built.
- **c. 1020 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) of Loches Castle, central France, is built.
- **1066 CE**: [William the Conqueror](https://www.worldhistory.org/William_the_Conqueror/) begins construction of [Dover Castle](https://www.worldhistory.org/Dover_Castle/) in southern [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **Oct 1066 CE**: The Normans introduce [motte and bailey castles](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/) to [Britain](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Britain/).
- **c. 1067 CE**: Earl William FitzOsbern begins the construction of [Chepstow Castle](https://www.worldhistory.org/Chepstow_Castle/) in Wales.
- **1067 CE - 1090 CE**: The first [Great Hall](https://www.worldhistory.org/Great_Hall/) of [Chepstow Castle](https://www.worldhistory.org/Chepstow_Castle/) is built.
- **1068 CE**: Exeter Castle, Devon, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **1068 CE**: A [motte and bailey castle](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/) is built at York, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **1068 CE**: A [motte and bailey castle](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/) is built at Warwick, Warwickshire, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **1069 CE**: A second [motte and bailey castle](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/) is built at York, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1070 CE**: The Normans build the motte and bailey Pickering Castle, Yorkshire, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1070 CE**: [William the Conqueror](https://www.worldhistory.org/William_the_Conqueror/) builds a [motte and bailey castle](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/) at Windsor.
- **c. 1072 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) of [Chepstow Castle](https://www.worldhistory.org/Chepstow_Castle/), Wales is built.
- **c. 1074 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is begun at Colchester Castle, Essex, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1078 CE - c. 1100 CE**: The White Tower of the [Tower of London](https://www.worldhistory.org/Tower_of_London/) is built, a project begun by [William the Conqueror](https://www.worldhistory.org/William_the_Conqueror/).
- **1080 CE**: A [motte and bailey castle](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/) is built at Launceston, Cornwall, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **1080 CE**: A [motte and bailey castle](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/) is built at Totnes, Devon, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **1087 CE - 1089 CE**: Construction of the first stone version of [Rochester Castle](https://www.worldhistory.org/Rochester_Castle/) in [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1093 CE**: A [motte and bailey castle](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/) is built at Caernarfon in Wales by the Normans.
- **1095 CE - 1115 CE**: The hall keep is added to Norwich Castle, Norfolk, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1100 CE**: The motte and bailey Restormel Castle, Cornwall, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **c. 1105 CE**: Corfe Castle, Dorset, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **1122 CE**: Carlisle Castle, Cumbria, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **c. 1125 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) of Arques Castle, Normandy, France is built by [Henry I of England](https://www.worldhistory.org/Henry_I_of_England/).
- **1127 CE**: Construction begins of Scarborough Castle, Yorkshire, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/)
- **1127 CE - 1136 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is built at [Rochester Castle](https://www.worldhistory.org/Rochester_Castle/), [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **1130 CE**: Etampes Castle is built, near [Paris](https://www.worldhistory.org/disambiguation/paris/), France. The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is circular on the outside and square inside.
- **1131 CE**: The castle of Bari, southern [Italy](https://www.worldhistory.org/italy/) is built by Count Roger I.
- **1136 CE**: The [Knights Hospitaller](https://www.worldhistory.org/Knights_Hospitaller/) are given the castle of Beth Gibelin, [Jerusalem](https://www.worldhistory.org/jerusalem/).
- **c. 1138 CE**: Castle Rising Castle, Norfolk, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **c. 1138 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) of Farnham Castle, Surrey, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **c. 1142 CE**: A [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is added to Hedingham Castle, Essex, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **1144 CE**: The [Knights Hospitaller](https://www.worldhistory.org/Knights_Hospitaller/) acquire the castle of [Krak des Chevaliers](https://www.worldhistory.org/Krak_Des_Chevaliers/) in [Syria](https://www.worldhistory.org/syria/).
- **c. 1150 CE**: A stone shell keep is built at Cardiff Castle, Wales .
- **1150 CE - 1175 CE**: The [Caesar](https://www.worldhistory.org/disambiguation/caesar/)'s Tower [castle keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) at Kenilworth Castle, Warwickshire, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **1157 CE**: The castle of Eltz, Germany is built by the counts of Eltz.
- **1157 CE - 1169 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) of Scarborough Castle, Yorkshire, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **1165 CE - 1173 CE**: Orford Castle, Suffolk, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built and has a circular [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) with attached rectangular turrets.
- **1168 CE - 1178 CE**: A [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is added to Newcastle Castle, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1170 CE**: Henry II builds the Round Tower of [Windsor Castle](https://www.worldhistory.org/Windsor_Castle/), [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1170 CE - 1189 CE**: Henry II extends [Dover Castle](https://www.worldhistory.org/Dover_Castle/) in southern [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/), adding outer walls and a keep.
- **1174 CE**: The castle of Munzenberg, Hesse, Germany is built.
- **1180 CE**: The Castle of the Counts of Flanders, Ghent, Belgium is built.
- **1180 CE - 1190 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is built at Conisbrough Castle, Doncaster, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1180 CE - 1205 CE**: Carrickfergus castle, Northern [Ireland](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Ireland/) is built.
- **1186 CE**: The [Knights Hospitaller](https://www.worldhistory.org/Knights_Hospitaller/) gain control of Marqab (Margat) castle in [Syria](https://www.worldhistory.org/syria/).
- **c. 1190 CE**: [Sir William Marshal](https://www.worldhistory.org/Sir_William_Marshal/) begins rebuilding [Chepstow Castle](https://www.worldhistory.org/Chepstow_Castle/) in Wales.
- **c. 1190 CE - 1200 CE**: The castle of Trim, the largest Anglo-Norman castle in [Ireland](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Ireland/) is built.
- **1198 CE**: Chateau Gaillard in Normandy, France is built by [Richard I of England](https://www.worldhistory.org/Richard_I_of_England/).
- **1199 CE - 1219 CE**: [Sir William Marshal](https://www.worldhistory.org/Sir_William_Marshal/) adds a circular [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) to Pembroke Castle, Wales.
- **c. 1200 CE**: The [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) of Barnard Castle, County Durham, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **1202 CE**: An [earthquake](https://www.worldhistory.org/disambiguation/earthquake/) damages the castle of [Krak des Chevaliers](https://www.worldhistory.org/Krak_Des_Chevaliers/) in [Syria](https://www.worldhistory.org/syria/) which is then rebuilt and enlarged by the [Knights Hospitaller](https://www.worldhistory.org/Knights_Hospitaller/).
- **1205 CE**: [Philip II](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Philip_II/) of France adds a [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) to Chinon Castle, France.
- **1206 CE**: A round [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is built into the curtain walls of Gisors, Normandy, France.
- **c. 1207 CE - c. 1214 CE**: [King John](https://www.worldhistory.org/disambiguation/King_John/) adds towers to the walls of [Dover Castle](https://www.worldhistory.org/Dover_Castle/) in southern [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **1216 CE**: The castle of Calatrava la Nueva, Castile is built by the Order of Calatrava.
- **1218 CE**: The Château Pèlerin ("Pilgrim Castle") is built in [Israel](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Israel/) by the [Knights Templar](https://www.worldhistory.org/Knights_Templar/).
- **1222 CE - 1235 CE**: The [Great Hall](https://www.worldhistory.org/Great_Hall/) of Winchester Castle is built.
- **1223 CE**: Work is begun on Montgomery Castle, Wales by Hubert de Burgh.
- **c. 1225 CE**: A circular [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/) is built at Chateau de Coucy, northern France
- **1230 CE - 1240 CE**: The curtain walls and round towers of Angers Castle, central France, are built by Louis IX.
- **1233 CE**: Holy [Roman Emperor](https://www.worldhistory.org/Roman_Emperor/) [Frederick II](https://www.worldhistory.org/Frederick_II/) rebuilds the castle of Bari, southern [Italy](https://www.worldhistory.org/italy/).
- **1240 CE**: Dirleton Castle, East Lothian, [Scotland](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Scotland/) is built with a massive circular [tower keep](https://www.worldhistory.org/Castle_Keep/).
- **1245 CE**: Clifford's Tower shell keep is built at York, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) on the site of a former [motte and bailey castle](https://www.worldhistory.org/Motte_and_Bailey_Castle/).
- **1250 CE - 1260 CE**: The castle of Najac in southern France is built.
- **1250 CE - 1265 CE**: A double-towered gatehouse is added to Tonbridge Castle, Kent, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) by Richard de Clare.
- **1268 CE**: Construction of [Caerphilly Castle](https://www.worldhistory.org/Caerphilly_Castle/) in Wales is begun by Gilbert de Clare, Earl of Gloucester.
- **1282 CE**: The Castel Nuovo of Naples, southern [Italy](https://www.worldhistory.org/italy/) is built by the Angevins.
- **1282 CE - 1289 CE**: [Harlech Castle](https://www.worldhistory.org/Harlech_Castle/) in Wales is built by [Edward I of England](https://www.worldhistory.org/Edward_I_of_England/).
- **1283 CE - 1292 CE**: [Conwy Castle](https://www.worldhistory.org/Conwy_Castle/) in Wales is built by [Edward I of England](https://www.worldhistory.org/Edward_I_of_England/).
- **1283 CE - 1330 CE**: [Caernarfon Castle](https://www.worldhistory.org/Caernarfon_Castle/) in Wales is built, a project begun by [Edward I of England](https://www.worldhistory.org/Edward_I_of_England/).
- **1283 CE - 1330 CE**: [Harlech Castle](https://www.worldhistory.org/Harlech_Castle/) in Wales is built by [Edward I of England](https://www.worldhistory.org/Edward_I_of_England/).
- **1285 CE**: A new [Great Hall](https://www.worldhistory.org/Great_Hall/) is completed at [Chepstow Castle](https://www.worldhistory.org/Chepstow_Castle/).
- **c. 1287 CE - 1293 CE**: The Marten's Tower is added to [Chepstow Castle](https://www.worldhistory.org/Chepstow_Castle/), Wales.
- **1290 CE**: The castle of Falkenberg, Bavaria, Germany is built.
- **1295 CE**: [Beaumaris Castle](https://www.worldhistory.org/Beaumaris_Castle/) in Wales is built by [Edward I of England](https://www.worldhistory.org/Edward_I_of_England/).
- **1322 CE**: The Castle of Sarzanello, Pisa, [Italy](https://www.worldhistory.org/italy/) is built by Castruccio Castracane.
- **1341 CE**: The [Great Hall](https://www.worldhistory.org/Great_Hall/) is built at Penshurst Castle, Kent, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **c. 1350 CE**: The [Caesar](https://www.worldhistory.org/disambiguation/caesar/)'s Tower is built at Warwick Castle, Warwickshire, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/).
- **1354 CE**: Scalliger Castle, [Verona](https://www.worldhistory.org/Verona/), [Italy](https://www.worldhistory.org/italy/) is built by Can Grande II della Scala.
- **1380 CE**: The Castello della Rocca of Cesena, [Italy](https://www.worldhistory.org/italy/) is built.
- **1385 CE**: The Castello d'Este, Ferrara, [Italy](https://www.worldhistory.org/italy/) is built.
- **1385 CE**: Bodiam Castle in East Sussex, [England](https://www.worldhistory.org/disambiguation/england/) is built.
- **1390 CE - 1400 CE**: The castle of Pierrefonds, northern France is built by Louis D'Orleans.
- **1412 CE**: The Castello Sforzesco, Milan - the largest castle in [Italy](https://www.worldhistory.org/italy/) - is built by Francesco Sforza.
- **1450 CE**: The castle of Peñafiel, northern Spain is built.

## Eksterne skakels

- [Tower of London](https://www.hrp.org.uk/tower-of-london/)
- [Guédelon](https://www.guedelon.fr/en/)
- [The Design of Roman and Medieval Castles](https://ed.ted.com/on/O4bMBy8l)
- [Inside Burg Eltz Castle, Germany's Iconic Medieval Stronghold](https://allthatsinteresting.com/eltz-castle)

## Siteer hierdie werk

### APA
Cartwright, M. (2020, October 23). Middeleeuse kasteel. (E. Naudé, Vertaler). *World History Encyclopedia*. <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17024/middeleeuse-kasteel/>
### Chicago
Cartwright, Mark. "Middeleeuse kasteel." Vertaal deur Eduan Naudé. *World History Encyclopedia*, October 23, 2020. <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17024/middeleeuse-kasteel/>.
### MLA
Cartwright, Mark. "Middeleeuse kasteel." Vertaal deur Eduan Naudé. *World History Encyclopedia*, 23 Oct 2020, <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17024/middeleeuse-kasteel/>.

## Lisensie en Auteursreg

Ingedien deur [Eduan Naudé](https://www.worldhistory.org/user/eduanhnaude/ "User Page: Eduan Naudé"), gepubliseer op 23 October 2020. Kontroleer asseblief die oorspronklike bron(ne) vir kopiereg-inligting. Let asseblief daarop dat die inhoud met skakels vanaf hierdie bladsy moontlik verskillende lisensiebepalings kan hê.

