---
title: Kiëfse Rusland
author: Joshua J. Mark
translator: Eduan Naudé
source: https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16603/kiefse-rusland/
format: machine-readable-alternate
license: Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike (https://creativecommons.org/licenses/by-nc-sa/4.0/)
updated: 2022-02-28
---

# Kiëfse Rusland

Auteurs deur [Joshua J. Mark](https://www.worldhistory.org/user/JPryst/)_
Vertaal deur [Eduan Naudé](https://www.worldhistory.org/user/eduanhnaude)_

Kiëfse Rusland (862-1242) was ’n middeleeuse politieke federasie geleë in hedendaagse Belarus, Oekraïne en ’n deel van Rusland (laasgenoemde is vernoem na die Russe, ’n Skandinawiese volk). Die naam Kiëfse Rusland (*Kievan Rus*) is ’n eietydse benaming wat “land van die Rus” beteken soos wat die streek in die Middeleeue bekend gestaan het.

Die Russe het uit die stad Kiëf geheers en derhalwe het Kiëfse Rusland eenvoudig beteken “die land van die Russe van Kiëf”. Die Russe word die eerste maal in die annale van sint Bertin genoem wat hulle teenwoordigheid in 839 in ’n diplomatieke sending van Konstantinopel na die hof van Louis die Vrome (r. 814-840) aangeteken het. Die annale voer aan dat hulle Swede was en dit is wel moontlik maar hulle etnisiteit kon nooit vir seker bevestig word nie.

Die storie van die Russe se aankoms in die ooste word die eerste maal in die *Primêre Kroniek* van Rusland (ook bekend as die *Verhaal van Vergange Jare*, ca. 12de eeu) vertel. Hierdie werk deel mee hoe die mense van die land die Russe (as Skandinawiese Vikings geïdentifiseer) in die middel van die 9de eeu genooi het om oor hulle land te kom heers en orde daarin te handhaaf. Drie broers, onder meer een genaamd Rurik, het die uitnodiging aanvaar en die Rurik Dinastie gestig wat vir langer as 700 jaar sou voortbestaan.

Hierdie weergawe van gebeure word teenswoordig gesteun deur geskiedkundiges wat as Normaniste bekend staan – diegene wat ’n Noorse oorsprong vir die Rurikid Dinastie aanvaar – en word aangeveg deur die sogenaamde anti-Normaniste wat ten gunste van ’n Slawiese oorsprong van Rusland en die ander state argumenteer. Die Normaniste se aanspraak word tans as meer geldig beskou en dit word algemeen aanvaar dat die Noorse leier Rurik (r. 862-879) die dinastie gestig het wat, in ’n gebroke lyn, tot en met die bewind van Iwan IV – eerste tsaar van Rusland (r. 1547-1584) ook bekend as Iwan die Verskriklike – sou duur.

Die staat Kiëfse Rusland het van 1237-1242 voor die aanslag van die Mongole geval sodat die streek in stukke verbrokkel het wat uiteindelik in die moderne lande Belarus, Rusland en Oekraïne sou ontwikkel.

### Die *Primêre Kroniek* en vroeë konings

Die Russiese *Primêre Kroniek* is waarskynlik ca. 1113 te Kiëf voltooi en is aanvanklik aan die monnik Nestor (ca. 1056-1114) toegeskryf maar daar word nou vermoed dat dit ’n samestelling van vroeër werke is wat moontlik deur Nestor geredigeer is. Die oudste steeds bestaande manuskrip dateer uit 1377 met redigeeraantekeninge wat die vroeër datum van die werk staaf. Daar word dikwels na die *Kroniek* as historiese narratief verwys maar dit is al betwis aangesien dit ’n aantal mitiese of legendariese aspekte bevat. Nietemin ondersteun argeologiese bewyse van die streek baie – alhoewel nie alle nie – gebeure wat daarin beskryf word.

[ ![11th century CE Kievan Rus Territories](https://www.worldhistory.org/img/r/p/500x600/7773.jpg?v=1764882246) Gebiede van die Kiëfse Russe in die 11de eeu SeikoEn (CC BY-SA) ](https://www.worldhistory.org/image/7773/11th-century-ce-kievan-rus-territories/ "11th century CE Kievan Rus Territories")Die werk begin deur aan te voer dat, ná die bybelse Groot Vloed, die seuns van Noag (Sem, Gam en Jafet) die wêreld tussen hulle verdeel het en dat die geweste van Kiëfse Rusland onder meer aan Jafet toegeken is. Wat Jafet gedoen het om orde in sy land te bewerkstellig, word nie genoem nie maar die *Kroniek* verhaal dat die mense teen mekaar baklei het en uiteindelik deur die Khazare van Sentraal-Asië (Turkye) en die Varangiërs (Vikings) van Skandinawië tot onderhorigheid gedwing is.

[Die Slawe](https://www.worldhistory.org/trans/af/1-13215/die-slawe/) van die streek is gedwing om skatpligtig aan die Khazare en die Varangiërs te wees totdat hulle die Varangiërs uitgedryf het maar die verhouding met die Khazare het onverander gebly. Daarna het die Slawe egter agtergekom dat hulle nie oor hulself kon heers nie en dat die tribuut wat hulle aan die Khazare moes betaal veels te groot was. Alhoewel hulle vroeër keelvol daarvan geraak het om skatpligtig aan die Varangiërs te wees, het hulle besef dat die lewe onder húlle beskerming moontlik beter daar uitgesien het. Die *Kroniek* meld:

> Teenoor hulself het hulle gesê, “Kom ons soek ’n prins wat oor ons sal heers, en ons volgens die wet kan oordeel.” Gevolglik het hulle oorsee na die Varangiese Russe gegaan; hierdie besonderse Varangiërs het as Russe bekend gestaan, nes sommige Swede genoem is, en ander weer Normandiërs, Engelse, Gotlanders, want dit is hoe hulle genoem is. (59)

Die Slawiese ambassadeurs het by die ongespesifiseerde land van die Russe aangekom en hulle uitgenooi om as konings oor hulle land te kom heers. Drie edele broers het die uitnodiging aanvaar en die *Kroniek* gaan voort:

> Die oudste, Rurik, het hom by Nowgorod gevestig; die tweede, Sineüs, by Beloozero; en die derde, Truwor, in Izborsk. Weens hierdie Varangiërs het die distrik van Nowgorod as die land van die Rus begin bekend staan. Die huidige inwoners van Nowgorod stam af van die Varangiese ras maar voormaals was hulle Slawe gewees. (59-60)

Bevestiging vir Skandinawiese nedersettings in hierdie areas word in fisiese bewyse gevind wat in argeologiese uitgrawings uit die aarde gehaal is. In ongeveer 750 is ’n nedersetting by Staraja Ladoga naby die Volkhov-rivier gestig – dit was die eerste Skandinawiese dorpie in die geweste. Vakkundige Thomas S. Noonan skryf:

> Argeologiese bewyse toon aan dat Ladoga sedert die ontstaan daarvan deur Skandinawiërs bewoon is: ’n Stel Skandinawies-Baltiese smidsgereedskap, insluitend ’n talisman met die gesig van Odin, is in ’n 750’s-stratum gevind … Die Skandinawiërs wat Ladoga besoek het, het nie gekom om te plunder en te roof nie. Daar was geen ander dorpe in die omgewing nie, kloosters het nie bestaan nie, en die inhoud van die naburige grafheuwels van die plaaslike mense was redelik beskeie. Daar was nie juis iets waardevols hier wat gesteel kon word nie. Ladoga is geskep om toegang tot die binneland van Europese Rusland, met al die natuurlike rykdom daarvan, te fasiliteer. (Sawyer, 141-142)

Die bewyse doen verder aan die hand dat Ladoga later ’n seisoenale nedersetting geraak het of dat die bevolking ten minste gefluktueer het, wat strook met die *Kroniek* se narratief dat die Slawe die Varangiërs uitgesmyt en later weer teruggenooi het. Noorse artefakte is by Nowgorod en die ander liggings wat in die *Kroniek* genoem word, gevind.

[ ![Rus Burial Mounds, Staraja Ladoga](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/9657.jpg?v=1779482885) Russiese grafheuwels, Staraja Ladoga Wilson44691 (Public Domain) ](https://www.worldhistory.org/image/9657/rus-burial-mounds-staraja-ladoga/ "Rus Burial Mounds, Staraja Ladoga")Twee jaar ná hul aankoms is die twee jonger broers oorlede en Rurik het hulle streke as sy eie oorgeneem, met sy hoofstad in Nowgorod. Twee manne van Rurik se groep – Askold en Dir – het hom om toestemming gevra om die land te verlaat en hulle fortuin by Tsargrad (Konstantinopel) te gaan soek, en hulle is toestemming gegee. Onderweg na Tsargrad het hulle by ’n stad op ’n heuwel genaamd Kiy (Kiëf) aangedoen en dit verower, waarna hulle die omliggende gebied op ware Viking-wyse begin plunder het. Die *Kroniek* skryf die bekende aanval op Konstantinopel (ca. 860) wat 200 Viking-skepe behels het aan hulle toe. Ná ’n groot bloedbad is die aanval deur ’n storm afgeweer wat na bewering deur God gestuur is; die geskiedkundige datum van hierdie aanval strook egter nie met die res van die narratief nie.

In Nowgorod is Rurik aan natuurlike oorsake oorlede maar hy het sy jong seun Igor aan die sorg van sy bloedverwant Oleg (ook bekend as Oleg van Nowgorod, en Oleg die Profeet – r. 879-912) toevertrou wat hom opgevolg het. Oleg het ’n aantal militêre veldtogte van Nowgorod af van stapel gestuur, en die omliggende gebiede verower en gekonsolideer. Ten einde laas het hy Kiëf bereik en gesien hoe Askold en Dir enorme rykdom deur hulle strooptogte opgegaar het.

Hy het hulle albei mislei om uit die stad uit te kom, hulle doodgemaak, beheer van die streek oorgeneem en sy hoofstad van Nowgorod na Kiëf verskuif (ca. 882). Deur middel van onderhandeling en militêre mag het hy van die stamme en nedersettings oortuig om nie meer aan die Khazare skatpligtig te wees nie maar eerder hulle tribuut aan hom te betaal. Teen die tyd wat sy bewind op ’n einde geloop het, het Oleg die Russe se beheer van die geweste ruim uitgebrei en Kiëf se skatkamer aansienlik aangevul.

Hy het as Oleg die Profeet (wat eintlik as Oleg die Priester vertaal word) bekend gestaan weens ’n profesie wat met sy dood verband gehou het. Dit is voorspel dat Oleg deur ’n pragtige perd wat hy besit het om die lewe gebring sou word, maar wat hy weens die profesie nooit gedurf ry het nie. Hy het gelas dat die perd weggestuur word maar daarvoor voorsiening gemaak dat dit altyd goed gevoer en versorg word. Toe hy eers die omliggende geweste verower en winsgewende verdrae gesluit het – veral met Konstantinopel – het hy selfversekerd van sy bewind gevoel, die spot gedryf met die profesie en wou hy van sy raadgewers weet wat van die perd geword het wat veronderstel was om hom dood te maak. Hy is meegedeel dat die perd gevrek het en Oleg het versoek dat hy na die beendere van die perd gebring moes word. By die perde se beendere het hy weereens die spot met die profesie gedryf en hard op die perd se skedel getrap wat ’n slang daaronder verskrik het wat hom aan die voet gebyt het sodat hy gesterf het.

Hy is opgevolg deur Igor van Kiëf (912-945) – Rurik se seun wat hy grootgemaak het. Igor het kort voordat hy aan bewind gekom het met ’n Varangiese vrou genaamd Olga (later sint Olga van Kiëf, sterf ca. 969) getrou. Nes sy aangenome vader was Igor betrokke by suksesvolle militêre veldtogte en het hy skatpligtigheid van die verowerdes geëis. Maar met verloop van tyd het hy gevind dat al die rykdom wat hy opgegaar het vir hom nie genoeg was nie sodat hy meer tribuut van die mense gehef het. Uiteindelik het die stam bekend as die Drevliërs hom weens sy hebsug in ’n sluipmoordaanval om die lewe gebring. Sy seun, Sviatoslav I (r. 945-972) was te jonk om die troon te bestyg sodat Olga van 945-963 as ryksbestuurder opgetree het.

Olga se eerste prioriteit was om die Drevliërs vir die moord op haar man te straf. Die Drevliërs het tyding gestuur dat hulle wou hê sy moes met hulle prins Mai in die huwelik tree en Olga blyk daartoe in te gestem het. Sy het versoek dat hulle afgesante stuur; dié het sy doodgemaak deur hulle om die bos te lei om in ’n boot gedra te word wat sy toe in ’n kuil laat gooi het waarna hulle lewendig begrawe is. Sy het toe versoek dat die wysste manne van die Drevliërs na haar toe kom, en met hulle aankoms het sy hulle genooi om te bad, en toe het sy die badhuise aan die brand laat steek en hulle lewend verbrand. Daarna het sy die Drevliërs gevra om ’n begrafnisfees ter ere van Igor voor te berei, hulle almal kans gegee om dronk te raak, en haar soldate almal daar toe laat afmaai.

[ ![Princess Olga's Revenge on the Drevlians](https://www.worldhistory.org/img/r/p/500x600/9658.jpg?v=1779482888) Prinses Olga se wraak op die Drevliërs Unknown Artist (Public Domain) ](https://www.worldhistory.org/image/9658/princess-olgas-revenge-on-the-drevlians/ "Princess Olga's Revenge on the Drevlians")Die oorlewende Drevliërs het gaan skuiling vind in die stad Iskorosten, waar Igor vermoor is, en Olga het die stad beleër. Toe sy dit nie kon inneem nie, het sy gesê dat sy net die geringste voorwaarde van oorgawe aan die stad sou voorskryf en het slegs vir drie duiwe en drie spreeus van elke huis gevra. Die voëls is sonder versuim oorhandig en Olga het haar soldate beveel om ’n stuk warm swael met ’n rafel aan die voëls vas te maak en hulle toe vrygelaat om na hulle nes in die stad terug te keer. Hierdie neste in die dakoorhange van huise en fuike en elders het almal terstond aan die brand geslaan en Iskorosten is verswelg. Olga het die meeste van die oorlewendes óf doodgemaak óf as slawe verkoop maar ander wel gespaar sodat hulle kon aanhou tribuut betaal.

Die stories oor Olga se wraak is onder die meer mitiese gedeeltes van die *Primêre Kroniek* maar verwys vermoedelik wel na werklike geskiedkundige gebeurtenisse in die uitwissing van die Drevliërs. Hierdie stories is later weerspreek deur die kerk wat Olga ’n sint gemaak het vir haar toegewyde Christensendingwerk in die streek – al het Kiëfse Rusland regdeur die bewind van haar seun en sy troonopvolger hoofsaaklik heidens gebly. Dit was nie Olga nie maar Vladimir die Grote (r. 980-1015) wat die streek na Christendom sou bekeer.

### Vladimir die Grote en Yaroslav die Wyse

Olga het ca. 963 ten gunste van Sviatoslav I geabdikeer en haar na Kiëf onttrek om die res van haar lewe aan huishoudelike pligte te wy. Sviatoslav I het onverwyld ’n string militêre veldtogte begin wat selfs groter as dié van Oleg en Igor was om sy gebied uit te brei en beheer oor die handelsroetes te verkry. Hy het eers vir Khazaria verower wat lank reeds ’n mededingende mag was, en daarna het hy hom op die Wolga Bulgare, die Alane en die Donau Bulgare toegespits totdat hy die grootte van sy koninkryk verdriedubbel het.

Tydens sy terugkeer na Kiëf van een so ’n veldtog het hy in ’n sluipmoordaanval omgekom en sy seuns Yaropolk I (r. 972-980), Oleg en Vladimir het om die kroon geveg. Oleg is doodgemaak en toe Yaropolk I die bewind in hande geneem het, het Vladimir na Noorweë, na die hof van sy bloedverwant Haakon Sigurdson (r. ca. 972-995) gevlug. Hier het hy ’n mag Varangiërs gemonster en sy tyd afgewag totdat hy gereed gevoel het om terug te keer en die koninkryk terug te neem. Hy het Yaropolk I se leër verslaan en sy broer in ’n hinderlaag om die lewe gebring.

Vladimir het die voorbeeld van sy vader gevolg en hom in ’n string militêre veldtogte begeef om óf die koninkryk uit te brei óf sekere gebiede te beveilig. Tydens hierdie opmarse en veldslae het hy heidense bedeplekke laat oprig ter ere van plaaslike of nasionale godhede. Dit was ongeveer hierdie tyd (ca. 987) dat Basilius II van die Bisantynse Ryk (r. 976-1025) vir Vladimir om militêre steun gevra het om sy troon teen twee uitdagers te verdedig waarvan een, Bardas Phokas, homself reeds as keiser verklaar het. Vladimir het ingestem en het toe óf versoek om met Basilius II se suster Anne in die huwelik te tree, óf die aanbod is aan hom gemaak. Die huwelik is goedgekeur op voorwaarde dat Vladimir na die Christendom bekeer.

[ ![The Varangian Guard](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/7585.jpg?v=1779482891) Die Varangiese Garde Unknown Artist (Public Domain) ](https://www.worldhistory.org/image/7585/the-varangian-guard/ "The Varangian Guard")Hierdie verbond het tot die verchristeliking van Kiëfse Rusland, en die vestiging van die Varangiese Garde in die Bisantynse Ryk gelei. Vladimir het in ca. 988 ’n mag van 6 000 Varangiërs na Basilius II in Konstantinopel gestuur, en van toe af tot en met die aanvang van die 14de eeu het hierdie soldate die elite-lyfwageenheid van Bisantynse keisers, en ’n formidabele afdeling stormtroepe geword.

’n Ander weergawe van Vladimir se kerstening voer aan dat hy sy geloof in sy heidense gode verloor het en afgesante na verskillende nasies gestuur het om met die kerklui oor hulle geloofsoortuigings en -praktyke te praat. Nadat hy Christendom, Islam en Judaïsme ondersoek het, het hy op Oosters-Ortodokse Christendom besluit weens die aanskoulikheid van Konstantinopel se kerke en die feit dat daar geen verbod op alkohol of die eet van varkvleis was nie. Die storie is een of ander tyd in die 11de eeu geskep, waarskynlik om Vladimir se kerstening van ’n eenvoudige huwelikskontrak te distansieer, en om sy onafhanklikheid van buitelandse invloede te beklemtoon. Wat ook al die omstandighede van sy bekering was, dit het later verreikende gevolge gehad, soos wat vakkundige Robert Ferguson uitwys:

> Die keuse van Slawies eerder as Ou Noors as die taal van die Russies-Ortodokse Kerk het die assimileringsproses onomkeerbaar gemaak. Dit het ook die diepgaande en blywende invloed van die Bisantynse kultuur vir die Russiese samelewing ontsluit. (131)

Alhoewel Vladimir aanvanklik moontlik net bekeer het om ’n bondgenootskap te vorm, het hy aanstons die beste waardes van die Christendom omhels. Hy het voorsiening vir die armes in sy koninkryk gemaak en homself persoonlik beskikbaar gestel om enigiemand – ongeag die persoon se sosiale status – te help. Hy het skole gestig om geletterdheid aan te moedig en het die lewe van sy mense in elke opsig verbeter. Onder Vladimir, wat stede gestig en talle kerke gebou het, het die handel gefloreer en die ekonomie van krag tot krag gegaan.

Vladimir is deur Sviatopolk I (r. 1015-1019) opgevolg; laasgenoemde het as “die Vervloekte” bekend gestaan omdat hy drie van Vladimir se seuns – onder meer Boris en Gleb wat later tot sint verklaar is – vermoor het nadat hy aan bewind gekom het. Sviatopolk I kon moontlik Vladimir se oudste seun gewees het maar daar bestaan onduidelikheid daaroor. Sy bewind was nie juis noemenswaardig nie en hy is deur een van Vladimir se ander seuns, Yaroslav I (ca. 1019-1054) – bekend as Yaroslav die Wyse – onttroon.

[ ![Vladimir I Converting to Christianity](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/9659.jpg?v=1779482895) Vladimir 1 bekeer na die Christendom Viktor Mikhailovich Vasnetsov (Public Domain) ](https://www.worldhistory.org/image/9659/vladimir-i-converting-to-christianity/ "Vladimir I Converting to Christianity")Yaroslav I was die laaste vername monarg van Kiëfse Rusland. Hy is met Ingegerd Olofsdotter (ca. 1001-1050), dogter van Olof Skötkonung (r. ca. 995-1022), koning van Swede, getroud en het later deur middel van die huwelike tussen sy kinders en dié van ander nasies, belangrike bondgenootskappe gesmee. Hy het ook die wette hervorm, belangrike verdrae met Konstantinopel gesluit en sy grense teen invalle deur die nomadiese Petsjenegs van Turkye beveilig. Getrou aan die tradisie van die Russiese koning as kryger, het hy ’n aantal suksesvolle militêre veldtogte aangevoer, en Kiëfse Rusland tot die land se kulturele en ekonomiese hoogtepunt verhef. Teen ongeveer 1037 het hy konstruksie van St. Sofia se Katedraal in Nowgorod – steeds een van die indrukwekkendste middeleeuse kerke in die wêreld – laat begin; die weelde daarvan getuig van die grootsheid van Yaroslav I se bewind.

Ná sy dood het Kiëfse Rusland verbrokkel soos sy seuns om mag teen mekaar geveg het, terwyl ander stede en vorstedomme in opstand gekom het. Die Kiëfse monarge wat daarna gevolg het, was nie sterk genoeg om die koninkryk bymekaar te hou nie sodat afsonderlike, kleiner state ontwikkel het. Dit was veral die Noordelike Kruistogte van die 12de eeu wat die Baltiese streek van die koninkryk omvergewerp het, terwyl die Vierde Kruistog (1202-1204) handel geruïneer het deur die plundering van Konstantinopel waardeur toegang tot tradisionele roetes na Griekeland afgesny is. Teen die tyd van die Mongoolse inval van 1237-1242 was Kiëfse Rusland nie eers meer naby aan ’n verenigde federasie nie sodat die afsonderlike state maklik oorgeneem is.

### Kiëfse Rusland in *Vikings* en nalatenskap

Kiëfse Rusland word in seisoen 6 (2019) van die gewilde TV-reeks *Vikings* op die voorgrond gebring met ’n fokus op die terugkerende karakter Oleg die Profeet (deur Russiese akteur Danila Kozlovsky vertolk). *Vikings* kombineer of vat dikwels geskiedkundige gebeurtenisse met ’n mate van digterlike vryheid saam en die reeks se uitbeelding van Oleg en verskeie gebeure in die geweste volg dieselfde voorbeeld. Die insluiting van Kiëfse Rusland is ’n belangrike ontvouing in ’n reeks wat konsekwent die aandag vestig op die impak wat Viking-plundertogte en -migrasie op ander kulture gehad het.

Alhoewel die anti-Normaniste-geskiedkundiges volhou dat die Noorse invloed in die Slawiese streke onbeduidend was, gee fisiese en letterkundige bewyse anders te kenne. Die Varangiese Russe wat hulle by Staraja Ladoga, Nowgorod en Kiëf gevestig het, het een van die rykste en mees stabiele kulture van alle tye tot stand gebring. Die ontwikkeling van ’n nasionale identiteit met ’n gemene godsdienstige geloof onder Rurikid-monarge soos Vladimir die Grote en Yaroslav I het die grondslag gelê vir die lande wat later in hierdie geweste sou verrys.

#### Editorial Review

This human-authored definition has been reviewed by our editorial team before publication to ensure accuracy, reliability and adherence to academic standards in accordance with our [editorial policy](https://www.worldhistory.org/static/editorial-policy/).

## Bibliografie

- [Brownworth. L. *The Sea Wolves: A History of the Vikings.* Crux Publishing Ltd, 2014.](https://www.worldhistory.org/books/1909979120/)
- [Collins, R. *Early Medieval Europe, 300-1000.* Palgrave, 2010.](https://www.worldhistory.org/books/0230006736/)
- [Dougherty, M. J. *Vikings: A History of the Norse People.* Amber Books, 2018.](https://www.worldhistory.org/books/1782740619/)
- [Ferguson, R. *The Vikings: A History.* Penguin Books, 2010.](https://www.worldhistory.org/books/0143118013/)
- [Haywood, J. *The Penguin Historical Atlas of the Vikings.* Penguin Books, 1995.](https://www.worldhistory.org/books/0140513280/)
- [Sawyer, P. *The Oxford Illustrated History of the Vikings.* Oxford University Press, 2001.](https://www.worldhistory.org/books/0192854348/)
- [Somerville, A. A. & McDonald, R. A. *The Viking Age: A Reader.* University of Toronto Press, Higher Education Division, 2014.](https://www.worldhistory.org/books/1442608676/)
- [The Russian Primary Chronicle Complete Text](https://archive.org/stream/TheRussianPrimaryChronicle/the%20russian%20primary%20chronicle_djvu.txt "The Russian Primary Chronicle Complete Text"), accessed 19 Mar 2020.
- [Wise Bauer, S. *The History of the Medieval World.* W. W. Norton & Company, 2010.](https://www.worldhistory.org/books/0393059758/)
- [Wolf, K. *Viking Age: Everyday Life During the Extraordinary Era of the Norsemen.* Sterling, 2013.](https://www.worldhistory.org/books/1454909064/)

## Oor die Skrywer

Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.
- [Linkedin Profile](https://www.linkedin.com/pub/joshua-j-mark/38/614/339)

## Tydlyn

- **c. 750 CE**: Scandinavian settlement of Staraja Ladoga founded as [trade](https://www.worldhistory.org/disambiguation/trade/) center.
- **862 CE - 879 CE**: Reign of Varangian King Rurik, founder of the Rurikid Dynasty of [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/).
- **862 CE - 1242 CE**: Federation of [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/) controls areas of modern-day Belarus, Russia, and the Ukraine.
- **879 CE - 912 CE**: Reign of Oleg of Novgorod, also known as Oleg the Prophet, in [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/).
- **c. 882 CE**: Oleg the Prophet moves capital of [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/) from Novgorod to Kiev.
- **912 CE - 945 CE**: Reign of Igor of Kiev in [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/).
- **945 CE**: Assassination of Igor of Kiev by Drevlians.
- **c. 945 CE - c. 950 CE**: Olga seeks revenge on Drevlians for Igor's [death](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Death/).
- **945 CE - c. 963 CE**: Olga, wife of Igor, reigns as regent for their son Sviatoslav I.
- **c. 963 CE - 972 CE**: Reign of Sviatoslav I (Sviatoslav the Brave), who expands and enriches [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/) through military campaigns.
- **972 CE - 980 CE**: Reign of Yaropolk I in [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/).
- **980 CE - 1015 CE**: Reign of Vladimir I (the Great) in [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/); converts region to Eastern Orthodox [Christianity](https://www.worldhistory.org/christianity/).
- **c. 987 CE**: Vladimir I sends Varangian forces to help [Basil II](https://www.worldhistory.org/Basil_II/) of [Constantinople](https://www.worldhistory.org/Constantinople/); creation of the [Varangian Guard](https://www.worldhistory.org/Varangian_Guard/).
- **1015 CE - 1019 CE**: Reign of Sviatopolk I in [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/).
- **1019 CE - 1054 CE**: Reign of Yaroslav I (the Wise) in [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/); height of the federation in every respect.
- **c. 1054 CE - c. 1078 CE**: Yaroslav I's sons fight each other for control; [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/) splinters.
- **c. 1078 CE - c. 1337 CE**: [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/) broken into separate districts and polities. .
- **1237 CE - 1242 CE**: The [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) Invasion; [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/) conquered. .

## Eksterne skakels

- [The Historic Ties Binding Russia, Ukraine, and Crimea](https://pintsofhistory.com/2022/03/22/the-historic-ties-binding-russia-ukraine-and-crimea/)

## Siteer hierdie werk

### APA
Mark, J. J. (2022, February 28). Kiëfse Rusland. (E. Naudé, Vertaler). *World History Encyclopedia*. <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16603/kiefse-rusland/>
### Chicago
Mark, Joshua J.. "Kiëfse Rusland." Vertaal deur Eduan Naudé. *World History Encyclopedia*, February 28, 2022. <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16603/kiefse-rusland/>.
### MLA
Mark, Joshua J.. "Kiëfse Rusland." Vertaal deur Eduan Naudé. *World History Encyclopedia*, 28 Feb 2022, <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16603/kiefse-rusland/>.

## Lisensie en Auteursreg

Ingedien deur [Eduan Naudé](https://www.worldhistory.org/user/eduanhnaude/ "User Page: Eduan Naudé"), gepubliseer op 28 February 2022. Kontroleer asseblief die oorspronklike bron(ne) vir kopiereg-inligting. Let asseblief daarop dat die inhoud met skakels vanaf hierdie bladsy moontlik verskillende lisensiebepalings kan hê.

