Die Antonynse Plaag

Definisie

John Horgan
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 02 May 2019

Oorspronklike teks in Engels: Antonine Plague

Roman Votive Male Torso, from Isola Farnese (by Science Museum, CC BY-NC-SA)
Romeinse offer in die vorm van ’n manlike bolyf, van Isola Farnese
Science Museum (CC BY-NC-SA)

Die Antonynse Plaag, waarna soms as die Plaag van Galenus verwys word, het in 165 HJ tydens die bewind van Marcus Aurelius Antoninus (161-180 HJ) – laaste van die Vyf Goeie Keisers – regdeur die Mediterreense wêreld uitgebreek toe die Romeinse Ryk op die kruin van hulle mag was. Die eerste uitbraak van die plaag het tot 180 HJ geduur en die hele Romeinse Ryk geraak, met ’n tweede uitbraak in 251-266 HJ wat die uitwerking van die vroeër een verhewig het. Sommige geskiedkundiges het al aan die hand gedoen dat die plaag ’n nuttige wegspringplek bied om die begin van die verval van die Romeinse Ryk in die Weste te begryp, en dat dit ook bygedra het tot die uiteindelike val daarvan.

Simptome

Galenus, (129 tot ca. 216 HJ), ’n Griekse geneeskundige en skrywer van Methodus Medendi, was nie net getuie van die uitbreking nie maar het ook die simptome en verloop daarvan beskryf. Onder die algemener simptome was koors, diarree, braking, dors, ’n geswolle keel en ’n gehoes. Galenus het spesifiek daarop gelet dat die diarree swarterig voorgekom het, wat op gastroïntestinale bloeding gedui het. Die gehoes het ’n slegte reuk op die asem voortgebring, en eksanteem of ’n veluitslag wat deur rooi-en-swart papels gekenmerk is, het oor die hele liggaam voorgekom:

Verwyder Advertensies

Advertisement

By sommige hiervan wat ’n ulkus gevorm het, het die deel wat ’n “rofie” genoem word, afgeval en toe was die oorblywende deel naby dit gesond, en ná een of twee dae het ’n roof daaroor gevorm. In die plekke waar nié ’n ulkus gevorm het nie, was die eksanteem growwerig en skurf, en het dit soos een of ander skil afgeval, sodat alles gesond geraak het. (Littman & Littman, p. 246)

Diegene wat aangesteek is, het ongeveer twee weke aan die siekte gely. Nie almal wat die siekte opgedoen het, het gesterf nie, en dié wat oorleef het, het ’n weerstand teen daaropvolgende uitbrake ontwikkel. Op grond van Galenus se beskrywing het moderne navorsers tot die slotsom gekom dat dit waarskynlik pokke was wat die ryk geteister het.

Oorsaak en verspreiding van die siekte

Die epidemie het waarskynlik sy oorsprong in 166 HJ in China gehad, en het van daar weswaarts met die Syroete langs en deur middel van handelskepe onderweg na Rome versprei. Tussen laat 165 en vroeg 166 HJ het die Romeinse militêre magte tydens die beleg van Seleukië (’n vername stad aan die Tigrisrivier) met die siekte in aanraking gekom. Troepe wat van die oorloë in die ooste huiswaarts gekeer het, het die siekte noordwaarts versprei na Gallië en die troepe wat langs die Rynrivier gestasioneer was.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Roman Military Hospital, Novae
Romeinse militêre hospitaal, Novae
Janusz Recław (CC BY-NC-SA)

Twee verskillende legendes het ontstaan oor presies hóé die plaag onder die menslike bevolking versprei het. In die eerste storie het die Romeinse generaal en latere medekeiser Lucius Verus tydens die plunder van Seleukië ’n toe graftombe in die stad oopgemaak en die siekte sodoende vrygestel. Die verhaal doen aan die hand dat die epidemie ’n straf was aangesien die Romeine ’n eed aan die gode gebreek het om die stad nié te plunder nie. In die tweede storie het ’n Romeinse soldaat ’n goue doodskis in Apollo se tempel in Babilonië oopgemaak wat die plaag uitgelaat het. Twee verskillende bronne uit die vierde eeu HJ – Res Gestae deur Ammianus Marcellinus (ca. 330-391 tot 400 HJ) en die biografieë van Lucius Verus en Marcus Aurelius – skryf die uitbraak toe aan deelname aan ’n ontheiliging, skending van die heiligdom van ’n god en die verbreking van ’n eed. Ander Romeine het die Christene geblameer dat hulle die gode ontstig het en daardeur die uitbreking veroorsaak het.

Sterftesyfer en ekonomiese impak

Onder vakkundiges duur die debat voort oor die uitwerking en gevolge van die epidemie op die Romeinse Ryk. Hierdie debat fokus op die metodologie wat gebruik is om die werklike aantal mense te bereken wat gesterf het. Die Romeinse geskiedkundige Dio Cassius (155-235 HJ) het geskat dat daar tydens die hoogtepunt van die uitbraak daagliks tot 2 000 mense in Rome gesterf het. Tydens die tweede uitbreking was die geskatte sterftesyfer veel hoër – 5 000 per dag en meer. Hierdie uiterste hoë dodetal was waarskynlik omdat blootstelling aan siektes nuut was vir mense wat in die geweste van die Middellandse See gewoon het. Die dodetal styg wanneer ’n “rou bevolking” – ’n bevolking wat aan verworwe of oorgeërfde immuniteit teen ’n spesifieke siekte te kort skiet – aan aansteeklike siektes blootgestel word. Alles in ag genome, is dit aan die hand gedoen dat ’n kwart tot ’n derde van die ganse bevolking omgekom het, oftewel 60-70 miljoen mense regdeur die ryk. Wat nié betwis word nie is dat Lucius Verus, medekeiser met Marcus Aurelius, in 169 HJ aan die siekte gesterf het, en dat Marcus Aurelius 11 jaar later ook daaraan dood is. Ironies genoeg was dit Verus se soldate wat tot die verspreiding van die siekte vanuit die Nabye Ooste na die res van die ryk bygedra het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DAAR IS AAN DIE HAND GEDOEN DAT ’n KWART TOT ’n DERDE VAN DIE GANSE BEVOLKING OMGEKOM HET – ’n GESKATTE 60-70 MILJOEN MENSE REGDEUR DIE RYK.

Met die uitbreking van die plaag het die Romeinse militêre magte uit 28 legioene – ongeveer 150 000 man – bestaan. Die legioene was goed opgelei, goed bewapen en goed voorberei, waarvan niks voorkom het dat hulle die siekte opgedoen, siek geraak en gesterf het nie. Dit het nie saak gemaak waar die legioensoldate uitgeplaas was nie; hulle het die siekte opgedoen by medesoldate wat van pas af na aktiewe diens teruggekeer het. Siek en sterwende soldate het tot ’n tekort aan mannekrag langs veral die Germaanse grense gelei sodat die Romeine se vermoë om die ryk te verdedig drasties verswak is. Die gebrek aan beskikbare soldate het veroorsaak dat Marcus Aurelius enige weerbare man wat kon veg, gewerf het: bevryde slawe, Germane, misdadigers en gladiatore. Deur die aantal gladiatore uit te dun, was daar minder spele tuis. Dit het die Romeinse volk ontstig wat in die tyd van intensiewe spanning op méér, nie minder nie, vermaak aangedring het. Die saamgeflanste leër het hulle plig versuim: In 167 HJ het die Germaanse stamme vir die eerste maal in meer as 200 jaar die Rynrivier oorgesteek. Die sukses van die eksterne aanvalle, veral deur die Germane, het die ondergang van die Romeinse militêre magte gefasiliteer en dit, tesame met die ekonomiese ontwrigtings, het op die ou einde tot die val van die Romeinse Ryk bygedra. Op ’n algemener vlak het die verskriklike dodetal veroorsaak dat die aantal belastingbetalers, rekrute vir die leër, kandidate vir staatsampte, sakelui en boere aansienlik afgeneem het. In ’n tyd toe uitgawes vir die instandhouding van die ryk en die nodige militêre magte toegeneem het om die ryk se veiligheid te verseker, het staatsinkomste gedaal. Die afname in staatsinkomste is toegeskryf aan minder verbouing op plase aangesien minder boere beteken het dat te veel grond onbewerk gelaat is. Die skaarsheid van gewasse het veroorsaak dat pryse skerp gestyg het en dat kos al minder beskikbaar was. Maar die plaag se uitwerking op die ekonomie was nie tot die landbousektor beperk nie. Minder vakkundiges het beteken dat minder produkte vervaardig is, en dit het weer plaaslike ekonomieë belemmer. Die gebrek aan die werksmag het ook tot hoër lone aanleiding gegee vir diegene wat die epidemie oorleef het, en die tekort aan sakelui, winkeliers, handelaars en finansiers het enorme ontwrigtings in sowel die binnelandse as internasionale handel veroorsaak. Al hierdie agteruitgang het minder belasting vir die staat beteken wat reeds gesukkel het om hulle finansiële verpligtinge na te kom.

Uitwerking op godsdiens

Die uitwerking van die plaag was nie tot militêre en ekonomiese aspekte beperk nie. Marcus Aurelius het vervolgings teen die Christene van stapel gestuur wat geweier het om eer aan die gode te betoon; die keiser het geglo die Christene se versuim het die gode vertoorn sodat hulle deur middel van die epidemie uiting aan hulle wraak gegee het. Ironies genoeg het die aanvalle teen die Christene die teenoorgestelde uitwerking onder die algemene bevolking gehad.

Anders as aanhangers van die Romeinse politeïstiese stelsel, het die Christene geglo in die verpligting om ander in ’n tyd van nood by te staan, en dit het siekte ingesluit. Christene was gewillig om aan die mees basiese behoeftes soos kos en water te voorsien vir diegene wat te siek was om na hulself om te sien. Dié eenvoudige vlak verpleegsorg het ’n goeie verhouding tussen Christene en hulle heidense bure bevorder. Christene het dikwels gebly om bystand te verleen wanneer heidene die hasepad gekies het. Voorts het die Christendom ook in ’n tyd van krisis betekenis aan die lewe en die dood verleen. Dié wat oorleef het, kon daarin vrede vind dat geliefdes wat as Christene gesterf het, die hemelse beloning sou ontvang. Die Christen-belofte van verlossing in die hiernamaals het nog volgelinge gelok, sodat die groei van monoteïsme ’n hupstoot binne ’n politeïstiese kultuur gekry het. Die aanwas van aanhangers het die konteks gevestig waarbinne die Christendom later as die enigste, amptelike godsdiens van die ryk sou ontluik.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Val van die Ryk

Enige bespreking oor die val van die Romeinse Ryk in die Weste begin met Edward Gibbon se The History of the Decline and Fall of the Roman Empire. Gibbon het nie die rol wat die uitwerking van siekte-uitbrake gespeel het buite rekening gelaat nie; met betrekking tot Justinianus se Plaag (541-42 HJ) voer hy vroeg in sy multivolumewerk aan dat pestilensies en hongersnood bygedra het om Rome se ellende in geen geringe mate nie aan te vul (vol. 1, bl. 91). Gibbon gee nie veel aandag aan die Antonynse Plaag nie en voer eerder aan dat barbaarse invalle, die verlies aan Romeinse staatsdeug en die opkoms van die Christendom die belangrikste rolle in die ondergang van die ryk gespeel het.

Navorsers en geskiedkundiges, soos AER Boak, het meer onlangs aan die hand gedoen dat die Antonynse Plaag, tesame met ’n string ander uitbrake, ’n nuttige wegspringplek bied om die begin van die ondergang van die Romeinse Ryk in die Weste te verstaan. In Manpower Shortage and the Fall of the Roman Empire redeneer Boak dat die uitbreek van die plaag in 166 HJ tot ’n afname in die bevolkingsgroei bygedra het wat die militêre magte genoop het om meer burgerlikes en plaaslike beamptes in hulle geledere op te neem. Dit het tot laer kosproduksie gelei, sowel as ’n gebrek aan ondersteuning vir die daaglikse behartiging van dorps- en stadsaangeleenthede, sodat Rome se vermoë om die barbaarse invalle af te weer, drasties ondermyn is.

Plague of Rome
Plaag van Rome
Levasseur after J. Delaunay (CC BY-SA)

In The Route to Crisis: Cities, Trade and Epidemics of the Roman Empire voer Eriny Hanna aan dat die Romeinse kultuur, stedelike lewenswyse en die interafhanklikheid tussen stede en provinsies die verspreiding van aansteeklike siektes gefasiliteer het en sodoende die basis vir die agteruitgang van die ryk gevorm het (Hanna, 1). Oorbevolkte stede, swak diëte wat wanvoeding veroorsaak het sowel as ’n tekort aan gesondheidsmaatreëls het van die Romeinse stad ’n episentrum vir siekte-oordrag gemaak. Die kontakbesmetting het gewoonlik met die land- en seehandelsroetes versprei wat die stede met die buiteprovinsies verbind het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Kyle Harper het meer onlangs voorgestel dat die paradokse van sosiale ontwikkeling en die inherente onvoorspelbaarheid van die natuur meegewerk het om die ondergang van Rome te bewerkstellig (Harper, 2). Klimaatsverandering het met ander woorde die omgewingskonteks vir die vrystel van nuwe, meer katastrofiese siektes, onder meer die Antonynse Plaag, verskaf wat aan die einde van ’n uiters gunstige klimaatstydperk sy opwagting gemaak en die wêreld aan pokke bekend gestel het. Harper voer aan die Antonynse Plaag was die eerste van drie vernietigende pandemies wat die Plaag van Ciprianus (249-262 HJ) en die Plaag van Justinianus (541-42 HJ) insluit, en wat hoofsaaklik weens die hoë sterftesyfer daarvan die Romeinse Ryk tot in sy fondamente geskud het. Die einste sterkpunte wat dikwels die vleiende beskrywings van die Romeinse Ryk kenmerk – die Romeinse leër, die omvang van die ryk, die omvattende handelsnetwerke, die aantal Romeinse stede en die grootte daarvan – het op die ou einde die grondslag gevorm vir die vernietigende oordrag van siektes wat tot die val van die ryk aanleiding gegee het.

Bibliografie

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

John Horgan
John Horgan is tans ’n assistentprofessor in Geskiedenis aan Concordia Universiteit in die Verenigde State. Sy deurlopende lees- en navorsingsbelangstellings sluit plae en siektes, sowel as kos in wêreldgeskiedenis, in.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Horgan, J. (2019, May 02). Die Antonynse Plaag [Antonine Plague]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18080/die-antonynse-plaag/

Chicago-styl

Horgan, John. "Die Antonynse Plaag." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 02, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18080/die-antonynse-plaag/.

MLA-styl

Horgan, John. "Die Antonynse Plaag." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 02 May 2019. Web. 21 Oct 2021.