Middeleeuse ambagte

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 06 December 2018

Oorspronklike teks in Engels: Medieval Trades

Medieval Baker & Apprentice (by Unknown Artist, Public Domain)
Middeleeuse bakker en vakleerling
Unknown Artist (Public Domain)

Middeleeuse ambagte was noodsaaklik vir die daaglikse welsyn van die gemeenskap en diegene wat ’n vaardigheid deur middel van ’n vakleerlingskap aangeleer het, kon ’n hoër en meer gereelde inkomste as boere of soldate verdien. Professionele ambagslui soos meulenaars, ystersmede, messelaars, bakkers en wewers het volgens ambag verenig om gildes te vorm om hul regte te beskerm, pryse te waarborg, bedryfstandaarde te handhaaf en ongelisensieerde mededinging uit te hou.

Soos wat dorpe vanaf die 11de eeu in stede ontwikkel het, het ambagte gediversifiseer en het middeleeuse handelstrate met allerlei bekwame werkers begin spog wat hul ware te koop aangebied het – van saalmakers tot kleremakers, en silwersmede tot grofsmede. Natuurlik het ambagte en handelspraktyke regdeur die Middeleeue met verloop van tyd en van plek tot plek verskil. Die volgende is dus ’n algemene oorsig van sommige van die gewone en interessante kenmerke van ambagte in middeleeuse Europa.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Vakleerlingskap

Baie kinders het die ambag van hul ouers deur middel van informele waarneming en deur hul ouers met klein takies by te staan, bemeester maar daar was ook volledige vakleerlingskappe waarvoor ouers betaal het en waar jongmense saam met ’n bekwame werker of meester gewoon en hulle vir ’n ambag bekwaam het. Die meester wat die vakleerling in diens geneem het, het dikwels ook die rol van ouer vervul en in al die behoeftes van die vakleerling voorsien en morele leiding gegee terwyl daar van die vakleerling verwag is om in alle sake gehoorsaam aan die meester te wees. ’n Vakleerling is gewoonlik nie betaal nie maar is van kos, blyplek en klerasie voorsien. Seuns en meisies het gewoonlik in hul vroeë tienerjare ’n vakleerling geword maar soms was hulle so jonk as sewe jaar wanneer hulle die lang pad betree het om ’n spesifieke ambag aan te leer. Daar was baie gevalle waar die vakleerling weggeloop het en reëls is vasgestel dat die meester en die vakleerling se vader elkeen een dag lank na die vermiste jeugdige moes soek. Daar was ’n tydbeperking van een jaar, waarna die meester nie die ontvlugter as vakleerling hoef terug te geneem het nie.

’n VAKLEERLING HET GEWOONLIK GEKWALIFISEER DEUR ’n “MEESTERSTUK” TE PRODUSEER WAT SY OF HAAR VERWORWE VAARDIGHEDE TEN TOON GESTEL HET.

Die duur van die vakleerlingskap het van die ambag en die meester afgehang (die versoeking van gratis arbeid was ’n versoeking om die opleiding vir so lank moontlik uit te rek) maar ongeveer sewe jaar blyk die gemiddeld te gewees het. ’n Kok se vakleerling het dalk net twee jaar se opleiding benodig terwyl ’n metaalwerker – soos ’n goudsmid – aan die ander punt van die spektrum die ambag dalk 10 jaar lank moes bestudeer voordat ’n eie besigheid oopgemaak kon word. ’n Vakleerling het gewoonlik gekwalifiseer deur ’n “meesterstuk” te produseer wat sy of haar verworwe vaardighede ten toon gestel het. Maar benewens vaardigheid het dit geld gekos om die titel “meester” te verwerf, en gekwalifiseerde vakleerlinge wat nie hul eie besigheidsplek kon bekostig nie, het as ’n “ambagsgesel” bekend gestaan aangesien hulle gewoonlik rondgereis het en waar hulle ook al kon, werk by ’n meester met ’n perseel gevind het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Middeleeuse gildes

Sodra hulle eie besigheid aan die gang was, kon meesterambagslui vanaf die 12de eeu lid van ’n gilde word. Hierdie organisasies, wat deur ’n kerngroep deurwinterde ambagslui bekend as gildemeesters behartig is, het die beskerming van hul lede se werksomstandighede nagestreef, verseker dat hulle produkte aan ’n hoë standaard voldoen het en dat eksterne mededinging geminimeer is. Gereelde inspeksies het – ten minste in ’n sekere mate – verseker dat handelsware presies was wat dit geadverteer is om te wees, dat aan maat- en gewigregulasies voldoen is, dat pryse korrek was en dat lede nie onbillik teenoor mekaar vir kliënte meegeding het nie. Deur regulasies op vakleerlingskap af te dwing, kon gildes ook die verskaffing van arbeid reguleer en seker maak dat daar nie te veel meesters op enige spesifieke tydstip was nie en dat die pryse van sowel arbeid as goedere nie ineenstort nie.

Winemakers, Zodiac Window Chartres
Wynmakers: sodiak-venster, Chartres
Lawrence OP (CC BY-NC-ND)

Vroue in die ambagte

Alhoewel daar baie min gildes spesifiek vir vroue was of wat spesifiek deur vroue bestuur is, en alhoewel die meeste vakleerlinge en meesters mans was, was daar ’n beduidende minderheid vroue wat by sommige ambagte betrokke was. Weduwees was veral prominent onder die ambagslui aangesien hulle – indien hulle geen na manlike familielid gehad het nie en ongetroud gebly het – hulle afgestorwe man se besigheid kon behartig. Daar was egter ’n paar beperkings; hulle kon byvoorbeeld nie self ’n vakleerling oplei nie. Sommige ambagte soos die Paryse pluimveehandelaars het enige vrou met die geldmiddele toegelaat om ’n besigheid te besit terwyl baie ambagte soos sy- en sluiervervaardiging deur vrouewerkers oorheers is. Daar is dus rekords (hoofsaaklik belastingberekenings) van allerlei ambagte – van kantmakers tot slagters – wat deur vroue bestuur is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die meulenaar

Elke kasteel of herehuis het sy eie meul gehad om aan die behoeftes van die omliggende landgoed te voldoen – nie net van die graanprodukte van die heer se landerye nie maar ook dié van die lyfeienes wat gewoonlik verplig was om hulle graanprodukte by die heer se meul te laat maal. Meule kon deur wind, water , perde of mense aangedryf word. Een noodsaaklike item om ’n besigheid aan die gang te kry, was ’n meulsteen van hoë gehalte wat nie gou afgeslyt het nie maar dit was ongelukkig nogal ’n duur affêre gewees. Die Rynland het ’n gedugte reputasie ontwikkel dat hulle die beste meulstene vervaardig het, waarvan een soveel as 40 sjielings, of in Engeland die ekwivalent van 10 perde, kon kos. Met so ’n groot belegging en aangesien ’n kasteel of herewoning nie die meul baie dikwels hoef te gebruik het nie (al het gemaalde graanprodukte nie baie lank gehou nie), is die meul dikwels aan ’n meulenaar verhuur om welke wins daaruit te maak wat hy ook al kon.

Die meulenaar het ’n hoë aansien in die gemeenskap geniet omdat hy so noodsaaklik daarvoor was, ’n gereelde inkomste gehad het en omdat dit nie ’n té aardige werk was nie. Maar omdat die meulenaar geld moes maak om vir die huur van die meul te betaal, het die dorpenaars hom dikwels met agterdog bejeën aangesien hulle bekommerd was dat hulle nie werklik die gehalte meel teruggekry het wat hulle graan geregverdig het nie. Soos die woorde van een middeleeuse raaisel dit stel:

Wat is die moedigste ding ter wêreld?

Die hemp van ’n meulenaar want dit het elke dag ’n dief aan die strot beet.

Verwyder Advertensies

Advertisement

(Gies, 155)

Die ystersmid

Hout en klei was die goedkoopste materiaal in die Middeleeue maar sommige items het metaal – gewoonlik yster – geverg wat baie duurder was. Derhalwe was die ystersmid vir enige gemeenskap so noodsaaklik soos die meulenaar. Baie landboutoerusting het ysteronderdele benodig, al was dit net vir die snykant daarvan, en ystersmede het dus besig gebly met die maak van nuwe en die herstel van ou toerusting. Kosmaakpotte en perdeskoene was nog gesogte produkte van die ystersmid se byna towervermoë met ’n smeltoond, hamer en aambeeld. Maar die middeleeuse noodsaaklikheid om dinge te maak wat so lank moontlik moet hou, het veroorsaak dat ’n dorpie se ystersmid dalk nie so besig was dat hy ’n bestaan kon maak nie; daarbenewens het hy ook ’n indrukwekkende en duur stel gereedskap en toerusting benodig om bestellings te voltooi. Gevolglik het ’n ystersmid gewoonlik die besigheid by sy vader geërf en baie het ook ’n lappie grond bewerk om tering na die nering te sit. ’n Ystersmid by ’n herehuis of kasteel was beter daaraan toe aangesien hy moontlik houtskool afkomstig van die bome in die landheer se woud gratis ontvang het, en die voordeel geniet het dat ’n paar van die heer se lyfeienes sy akkertjie bewerk terwyl hy met sy hamer en tang doenig was.

Die bakker

DIT WAS NIKS VREEMD VIR BAKKERS OM DIE MEELINHOUD VAN BROOD MET IETS ’N BIETJIE GOEDKOPER, BYVOORBEELD SAND, AAN TE VUL NIE.

Met brood so ’n onontbeerlike deel van die middeleeuse dieet – veral vir die laer klasse – was bakkers nog immerteenwoordige ambagslui maar weens daardie einste rede was die bedryf ook een van die mees gereguleerdes. Gereelde inspeksies, in die dorpe ten minste, het verseker dat bakkers brode volgens die regte gehalte, grootte en gewig gelewer het. Om hierdie rede is ’n identifikasiemerk gewoonlik aan brode aangebring om te wys presiés wie dit gebak het. Ten spyte van hierdie voorsorgmaatreëls was dit niks vreemd vir bakkers om die meelinhoud van brood met iets ’n bietjie goedkoper, byvoorbeeld sand, aan te vul nie. Diegene wat hulle kliënte probeer verneuk het en betrap is, is dikwels aan ’n skandpaal vasgeketting, met die laakbare brood om hul nek vasgebind. Ten einde vars brood in die oggende beskikbaar te stel, was bakkers van die min handelaars wat toegelaat is om snags te werk.

Medieval Butcher
Middeleeuse slagter
Unknown Artist (Public Domain)

Die slagter

Die slagter het voorkeurstukke vark-, lam- en beesvleis sowel as pluimvee- en wildsvleis voorberei. Die slagters het ’n duur verbruiksartikel verkoop en met dié dat hulle die vuilste en onwelriekendste deel van die dorp beset het, het hulle hulself saam met die vishandelaars op die onderste sport van stedelike winkelbesoekers se gewildheidsleer bevind. En soos met bakkers, was baie mense bra skepties oor presies wát ’n slagter in sy wors gesit het om geld te spaar. Een grappie het soos volg gegaan:

Verwyder Advertensies

Advertisement

’n Man het afslag by die worsslagter gevra omdat hy sewe jaar lank al ’n getroue klant is. “Sewe jaar!” sê die slagter verbaas. “En jy leef nog!”

(Gies, 49).

Ten einde meer vertroue onder kliënte in te boesem, was daar bykomende reëls wat deur die slagtersgildes afgedwing is wat die verkoop van vleis van sekere diere, byvoorbeeld katte, honde en perde verbied het; daarbenewens was dit onwettig om kersvet en varkvet te vermeng.

Die wewer

BAIE AMBAGTE HET IN DELE VAN ’n STAD SAAMGEPAK SODAT GILDES HUL LEDE BETER KON REGULEER.

Baie kleinboervroue het tuis draad gespin en dit dan aan ’n wewer verkoop wat gewoonlik ’n man was. Alhoewel sommige vroue aangehou het om ’n regop weefraam te gebruik, is weefwerk teen die hoogtepunt van die Middeleeue gewoonlik op groter skaal deur ’n ervare wewer gedoen wat ’n horisontale weefraam gebruik het wat bo die vuurmaakplek van ’n kleinboer was. Tydens die Middeleeue het Engeland en Wallis ’n gedugte reputasie vir hulle wol ontwikkel terwyl Vlaandere ’n vername sentrum vir die vervaardiging van wolkledingstof geraak het. Wol is gewas om vetterigheid te verwyder, dan uitgedroog, geklop, deurgekam en gekaard. Die wol is dan gespin en op die weefraam bewerk om ’n growwe kledingstof te maak waarna dit gevul (geweek, gekrimp en dan gewoonlik gekleur) is; hiervoor is soms ’n wateraangedrewe meul gebruik, en soms is dit met voete getrappel. Die kledingstof is dan geknip en geborsel – moontlik herhaalde male – ten einde ’n baie fyn, egalige tekstiel te lewer.

Bouers

Een ding wat almal benodig het, was ’n dak oor die kop. Soos samelewings meer begin floreer het, het dorpe in grootte toegeneem en met konstruksietegnieke wat sedert die 13de eeu verbeter het, het baie mense beter en meer substansiële huise gesoek om in te woon. Welvarende kleinboere het hulle tradisionele huisies van modder en hout probeer verbeter terwyl landhere daarna gestreef het om ander mense met ’n herehuis te beïndruk wat dalk lyk soos die kasteel wat hulle nie kon bekostig nie. Gevolglik het baie gespesialiseerde ambagte vir elke aspek van die konstruksie van ’n gebou ontwikkel, byvoorbeeld messelaars, teëllêers, timmermanne, dekkers, glasmakers en pleisteraars. Timmermanne was veral betrokke by die daaropvolgende instandhouding van huise en ander strukture soos skure, pakhuise, kerke en brûe.

Bo aan die bouberoep was die meesterbouer en meestermesselaar. Albei moes bedrewe in wiskunde en geometrie wees om hul skaalmodelle en perkamentbouplanne te produseer waarop diegene onder hulle moes staatmaak ten einde die werklike elemente van ’n gebou behoorlik inmekaar te laat pas. Aangesien hulle op die perseel self nouliks ’n vinger geroer het, moes hulle op spesifieke projekte, veral die grotes soos die bou van ’n kasteel of kerk, ook die groot span bevoegde werkers onder hulle bevel goed kon bestuur.

Medieval Spice Merchant
Middeleeuse speseryhandelaar
Lawrence OP (CC BY-NC-ND)

Stadshandelaars

Veral groter dorpe en stede het natuurlik talryke en diverse handelsmense gehad. Daar was kleremakers en kledinghandelaars, kleurders, kersmakers en saalmakers, pelseniers, looiers en mandjiewewers, perkamentmakers en swaardmakers, sowel as wapensmede, goudsmede en silwersmede en – verreweg die grootste bedryfsektor – allerlei kosverkopers. Om hulle lede beter te reguleer of om klante te lok, het baie van hierdie ambagte dalk in ’n deel van ’n stad saamgepak, byvoorbeeld by die stadspoorte of omdat ’n bepaalde gebied ’n tradisie vir ’n spesifieke ambag gehad het (soos Notre Dame vir boeke, wat dit vandag steeds het).

Mediese praktisyns

Middeleeuse dokters het, ten minste in die later Middeleeue, hulle kundigheid aan ’n universiteit bekom en was van ’n hoë stand maar hulle praktiese rol in die samelewing was tot diagnose en voorskrifte beperk. ’n Pasiënt is eintlik deur ’n chirurg behandel en medisyne toegedien wat deur ’n apteker voorberei is; sowel die chirurg as die apteker is as ambagsmanne beskou aangesien hulle hul vaardighede deur middel van die vakleerlingstelsel aangeleer het. Omdat ’n chirurg nogal duur kon wees, het baie van die mense uit die minder gegoede klas ’n oplossing vir hulle geringe fisiese probleme by ’n baie goedkoper opsie gaan soek: die plaaslike barbier. Wanneer barbiere nie hare gesny of baarde gepunt het nie, het hulle ook geringe chirurgie gedoen en tande getrek. Arm mense kon hulle ook beroep op die vaardighede van ’n smous wat volksgeneeskunde loop en verkwansel het en raad gegee en middele berei het wat op tradisionele en natuurlike remedieë gegrond was; ongeag die twyfelagtige oorsprong daarvan moes dit in ’n sekere mate gewerk het aangesien dit regdeur die Middeleeue beoefen is.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2018, December 06). Middeleeuse ambagte [Medieval Trades]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17647/middeleeuse-ambagte/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Middeleeuse ambagte." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig December 06, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17647/middeleeuse-ambagte/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Middeleeuse ambagte." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 06 Dec 2018. Web. 25 Oct 2021.