Oppidum

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 08 March 2021

Oorspronklike teks in Engels: Oppidum

Celtic Oppidum Reconstruction (by Viator Imperi, CC BY-SA)
Keltiese Opidum Heropbou
Viator Imperi (CC BY-SA)

Keltiese heuweltopforte, waarna dikwels as oppida (enkelvoud: oppidum) verwys word – na aanleiding van die Latynse naam vir die groter nedersettings wat deur die Romeine opgerig is – is tydens die 2de en 1ste eeu VHJ regoor Europa gebou. Omring deur ’n vestingmuur en soms buitenste gragte, is oppida gewoonlik op ’n verhewenheid in die landskap of op ’n plein met natuurlik verdedigbare punte soos ’n kromming in ’n rivier geleë. Een van die bekendste voorbeelde is Alesia, wat in 52 VHJ ’n beleg deur Julius Caesar 100-44 VHJ) getrotseer het voordat die opperhoof Vercingetorix (82-46 VHJ) oorgegee het. Ander vername oppida sluit Gergovia in Gallië, Heidengraben in Duitsland en Maiden Kasteel in Brittanje in. Ná die uitbreiding van die Romeinse Ryk in die 1ste eeu HJ, is baie oppida prysgegee en verlaat maar sommiges, soos Alesia, is tot en met die Middeleeue bewoon, of het van godsdienstige belang vir die plaaslike bevolking gebly.

Ontwikkeling en kenmerke

Vooruitgang in landbou en vervaardiging tydens die Ystertydperk het die Kelte in Europa in staat gestel om te floreer en sodoende het klein stedelike nedersettings digter bevolk geraak. Soos wat stamme om hulpbronne meegeding het, het toenemende handel met die Romeine en die aanskaf van slawe en kosbare ware tot ’n toename in plaaslike wedywering en oorlogvoering tussen stamme gelei. Die Kelte het toe fortifikasies by maklik verdedigbare liggings soos lae heuwels, berge en krommings in ’n rivier opgerig. Die keuse van ’n gefortifiseerde terrein kon moontlik ook van godsdienstige belang gewees het, soos die hoeveelheid gelofteartefakte getuig wat by baie daarvan gevind word. Dit was nie noodwendig plekke wat bedoel is om permanent bewoon te word nie, alhoewel sommiges wel sodanig gebruik is. In tye van oorlog is baie eerder as toevlugsoord gebruik. Mense het sedert die Neolitiese Tydperk of selfs vroeër in natuurlik beskermde plekke gebly, maar die Keltiese heuweltopforte van die 2de en 1ste eeu VHJ is merkwaardig vir hulle grootte en mensgemaakte verdedigingswerke. Baie oppida het ’n area van baie vierkante kilometer (1 000 akker) beslaan. Die Latynse naam oppida (enkelvoud: oppidum) word dikwels deur argeoloë gebruik om na hierdie forte te verwys. Maar vir die Romeine het oppidum eenvoudig “nedersetting” beteken en dit kon op enige plek van besetting groter as bloot ’n dorpie toegepas word.

Verwyder Advertensies

Advertisement

BAIE OPPIDA IS AS ’n BEVEILIGDE OPSLAGPLEK VIR KOSBARE WARE GEBRUIK OF HET AS VERVAARDIGING-SENTRA DIENS GEDOEN.

Die gekose area vir ’n oppidum is gewoonlik deur mure omring wat toegang deur middel van hekke beperk het. Die mure, of minstens by liggings wes van die Ryn en in suidelike Duitsland, is opgerig deur middel van ’n tegniek wat die Romeine murus gallicus genoem het aangesien hulle dit die eerste maal in Gallië teëgekom het. Die metode het die skep van ’n raamwerk houtbalke behels wat deur middel van lang ysterspykers aan mekaar vasgeheg is. Binne die raamwerk is lae ru-klip en grond gepak met nog balke wat dit vir ekstra sterkte deurkruis het. Die hele muur is dan aan albei kante met gekapte klipblokke afgewerk waardeur die punte van die horisontale balke steeds sigbaar was. In oppida in Boheme en Morawië is ’n ander metode gebruik: die paalgleufmuur (Pfostenschlitzmauer of Kelheim-muur), waar ’n muur van vertikale houtpale met stapelklipwerk wat met horisontale balke deurkruis is, deur ’n tipe oploopstruktuur bestaande uit ru-klip en grond ondersteun is. In noordelike Gallië en die suidooste van Brittanje was ’n derde soort defensiewe muur algemeen. Dit was die Fécamp-soort, vernoem na die oppidum van dieselfde naam. Hier is die muur van ’n grondwal bestaande uit grond en ru-klip gemaak; die buitenste oppervlak het ’n baie steil helling terwyl die binnekant ’n meer geleidelike helling gehad het. Vir ekstra beskerming het hierdie soort muur gewoonlik ’n breë grag daarvoor gehad. Al hierdie strukture sou met ’n spitspaalheining bekroon gewees het.

Manching Oppidum Reconstruction
Manching Opidum Heropbou
Mößbauer (Public Domain)

Die goed geboude mure het ’n veilige area vir die bevolking van die omliggende platteland geskep, sou die gemeenskap aangeval word. Oppida is ook as beveiligde opslagplek vir kosbare ware gebruik en het as vervaardigingsentra diens gedoen. Hulle was dikwels streekshoofstede, alhoewel nie altyd nie – die Helveti-stam het byvoorbeeld 12 en die Bituriges 20 oppida gehad. Hulle het moontlik as verspreidingsentra van ware gedien, en hulle het heffings en tolgeld versamel aangesien dit dikwels op gevestigde handelsroetes geleë was. Oppida kon miskien ook sentra vir administrasie en regsbedeling gewees het. Uitgrawings het nie slegs werkswinkels vir metaalwerkers en ambagsmanne soos pottebakkers, wewers en glasmakers onthul nie maar ook die toebehore wat met die vervaardiging van Keltiese munte geassosieer word. Trouens, die teenwoordigheid van minerale in die nabye omgewing kon ’n belangrike rol gespeel het wanneer daar in die eerste plek besluit is om ’n oppidum te bou. Met die uitbreiding van die Romeinse Ryk het die meeste oppida as gefortifiseerde nedersettings verouderd geraak, maar alhoewel sommiges in die 1ste eeu HJ prysgegee en verlaat is, het baie tot so laat as die Laat Oudheid gefloreer.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Oppida in Frankryk

Alesia is waarskynlik die bekendste van alle oppida. Dit was ’n gefortifiseerde dorp in oostelike Gallië (vandag se Boergondië-streek), en dit was die hoofheuwelfort van die Mandubii-stam. In die 1ste eeu VHJ het die Griekse skrywer Diodorus Siculus die legende aangeteken dat Hercules Alesia ná sy romantiese betrokkenheid by Galata, die Galliese prinses gevestig het. Alesia was tussen twee riviere op ’n natuurlike kalksteenplato geleë wat beduidend hoër as die omliggende plein is. Dit het ongeveer 1 vierkante kilometer (240 akker) beslaan en is deur ’n omringende muur en grag beskerm. Alesia was in die Oudheid vir hulle metaalwerkbedryf bekend, ’n reputasie wat deur die argeologiese rekord gestaaf word.

Alesia het in 52 VHJ bekendheid verwerf toe dit die middelpunt van verset teen Julius Caesar se inval van Gallië geraak het. Die Galliese opperhoofde is deur Vercingetorix gelei wat ’n mate van sukses teen die Romeine behaal het. ’n Uitgerekte beleg waartydens Caesar sy eie fortifikasies gebou het om Alesia geheel en al te omring, het egter tot die oorgawe van Vercingetorix – of verraad deur mededingende opperhoofde – gelei, en Alesia is deur die Romeine oorwin. Die Romeine het toe die oppidum beset en dit het tot en met die Middeleeue ’n noemenswaardige nedersetting gebly; tot vandag is daar ’n dorpie, Alise-Sainte-Reine, op die terrein.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Siege of Alesia
Beleg van Alesië
The Creative Assembly (Copyright)

Nog ’n bekende oppidum was Gergovia in die suidooste van Frankryk, alhoewel die ligging nog nie heeltemal vir seker geïdentifiseer is nie. Dit was die setel van die Arverni, en Vercingetorix se tuisdorp. Die gefortifiseerde perseel is op ’n afgeleë hoë plato gebou, en het ongeveer 750 vierkante meter (0,18 akker) beslaan. In teenstelling met die lot van Alesia, was Julius Caesar se blokkade van die goed gefortifiseerde Gergovia – ook in 52 VHJ – ’n seldsame mislukking nadat die Romeine deur hulle Galliese bondgenote verraai is.

BIBRACTE HET TOT DIEP BINNE DIE ROMEINSE TYDPERK BESET GEBLY, MET JULIUS CAESAR WAT DIE BESETTING DAARVAN BEGIN EN SY GALLIESE OORLOË DAAR GESKRYF HET.

Bibracte was ’n oppidum in die ooste van sentrale Frankryk op die berg Beuvray, op ’n hoogte van ongeveer 760 m (2 500 vt.). Bibracte was eens op ’n tyd die hoofstad van die Aedui-stam en dit was die plek waar ’n groot samekoms opperhoofde bevel oor al die Galliese stamme aan Vercingetorix gegee het. Die hoofterrein het ongeveer 1,3 vierkante kilometer (320 akker) beslaan, terwyl ’n buitenste sirkel bolwerke ’n totale area van 2 vierkante kilometer (500 akker) omring het. Argeologiese uitgrawings op die terrein het duisende artefakte onthul wat met die Keltiese huishoudelike lewe verband hou, en hierdie ontdekkings het ’n belangrike bydrae gelewer tot ons begrip van hoe Gallië vóór die Romeine daar uitgesien het. Die groot hoeveelheid Romeinse amfora dui byvoorbeeld aan dat die wynhandel in die streek gefloreer het lank voordat Julius Caesar sy opwagting gemaak het. Die uitgrawings het ook aangedui dat die oppidum vir godsdienstige doeleindes in verskillende areas – die elite en die vakmanne – opgedeel is. Argeoloë het drie gelofte-inskripsies ontdek wat melding maak van die godin Bibracte na wie die terrein vernoem is. Bibracte was nog ’n oppidum wat tot diep binne die Romeinse tydperk beset gebly het, met Julius Caesar wat die besetting daarvan begin het en sy Galliese Oorloë geskryf het terwyl hy daar oorwinter het.

Oppida in Duitsland

Die gefortifiseerde heuweltopnedersetting by Heuneburg op die wesbank van die Donau in die suidooste van Duitsland is ongewoon aangesien dit baie vroeër as ander terreine gefortifiseer is. In die 6de eeu VHJ het die terrein ’n muur met vierkantige torings van 600 m (1 968 vt.) lank gekry wat met modderbakstene op ’n klipbasis gebou is. In sommige plekke was die muur 4 m (13 vt.) hoog. Die klip wat vir hierdie grootskaalse projek benodig is, is by ’n kalkklipsteengroef 6,5 km (4 myl) daarvandaan uitgegrawe. Bewyse van argeologiese vondse en boutegnieke doen sterk aan die hand dat kontak met die Etruriërs bewerkstellig is. Elf kunsmatige grondhope, of “tumuli” lê versprei deur die gefortifiseerde area.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Reconstruction of the Heuneburg Hillfort
Heropbou van die Heuneburg Hillfort
Claude Valette (CC BY-ND)

Heidengraben (’n moderne naam) is ’n Keltiese heuweltopfort in suidelike Duitsland. As die grootste bekende oppidum, het Heidengraben se mure ongeveer 16,5 vierkante kilometer (4 100 akker) omring, alhoewel ’n groot deel van die nedersetting natuurlike beskerming deur die Donau- en Rynrivier geniet het. Aan een gedeelte van die oppidum – waarskynlik die kern van die nedersetting – het ’n vestingwal en kuile ekstra beskerming gegee.

Manching was nog ’n groot oppidum. Dit was in Beiere, naby beduidende ysterneerslae geleë. Manching het ’n gebied van ongeveer 3,8 vierkante kilometer (940 akker) beslaan en die indrukwekkende muur was omtrent 7-8 km (4-5 myl) lank en het ’n hoogte van meer as 4,5 m (15 vt.) bereik. ’n Interessante kenmerk van Manching se mure is dat dit eers deur middel van die murus gallicus-tegniek gebou is, waarna die Kelheim-manier later gebruik is. Die terrein het verskeie hoofweë gehad, ’n digte sentrale gebied vir bewoning sowel as ’n area wat waarskynlik vir die weiding van lewende hawe gebruik is. Argeologiese uitgrawings het baie interessante artefakte onthul, onder meer ’n brons en vergulde tak met blare wat moontlik eens op ’n tyd deel van ’n sakrale boom was.

Oppida in die Tsjeggiese Republiek

Staré Hradisko is in Morawië in die ooste van die Tsjeggiese Republiek geleë. Die perseel het ongeveer 400 000 vierkante meter (100 akker) beslaan en was binne ’n reeks fortifikasies ingesluit waarvan die totale lengte om en by 3,2 km (2 myl) was. Die vooruitgang van die perseel was gebaseer op die nabyheid daarvan aan gevestigde handelsroetes, veral dié waarlangs barnsteen vervoer is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Závist is nog ’n Tsjeggiese oppidum, hierdie keer suid van Praag geleë, op ’n steil heuwel waar die Beraun- en Vltava-rivier by mekaar aansluit. Die hoof- gefortifiseerde terrein dateer terug na die 2de eeu VHJ maar daarbinne was ’n baie ouer toevlugsoord wat moontlik tot die 6de eeu VHJ terugdateer. Závist het op ’n stadium ongeveer 1,7 vierkante kilometer (420 akker) beslaan en het fortifikasiemure gehad wat altesaam ongeveer 9 km (5,5 myl) lank was. Závist het oor die jare verskeie aanvalle getrotseer, soos wat bewys word deur die mure en hoofhek wat herhaaldelik herbou is. In die 1ste eeu VHJ is nuwe gefortifiseerde areas by die terrein gevoeg wat op ’n aanwas van die bevolking dui. Teen die einde van die 1ste eeu VHJ is die terrein deur ’n brand vernietig en agtergelaat.

Oppida in Brittanje

Soos die Kelte noordwaarts getrek het, het hulle die konsep van die oppidum aan suidelike Engeland bekend gestel. Antieke Brittanje het reeds heuweltopforte gehad maar dié het van die meeste oppida op die kontinent verskil aangesien dit oor die algemeen nie woonhuisargitektuur ingesluit het nie, d.w.s: Dit is slegs ten tye van oorlog en vir tydelike besetting gebruik. Die Keltiese oppida was dus projekte wat op ’n veel groter skaal gebou is.

Maiden Castle, Dorset
Maiden Kasteel, Dorset
Maj. George Allen (Public Domain)

Yarnbury Kasteel in Wiltshire is in die 1ste eeu VHJ as ’n heuwelfort op die terrein van ’n ouer fortifikasie gebou. Dit was min of meer rond en die dubbele bolwerke is deur ’n grag geskei, met die hoofhek wat deur sig eie driehoekige fortifikasiestruktuur (’n ravelyn) beskerm is.

Maiden Kasteel in Dorset, suidelike Engeland, is die grootste heuwelfort in Brittanje wat uit die Ystertydperk dateer. Dit is al goed deur argeoloë bestudeer en verskaf interessante insig in hoe heuwelforte met verloop van tyd deurlopend verbeter is. Eers ’n Neolitiese perseel, toe ’n gefortifiseerde nedersetting sedert die 5de eeu VHJ, het die terrein agteruitgegaan en is toe ca. 400 VHJ herbou en uitgebrei. Hierdie nuwe terrein het ongeveer 180 000 vierkante meter (46 akker) beslaan. Die Keltiese fase in die fort se geskiedenis het ongeveer 250 VHJ begin en het nog ’n rondte bouery ingelui. Die binneste bolwerk is gelig en uitgebrei terwyl die buitenste grondwalle ook verbeter, en die hekke ontwerp is om die aantal vyandelike krygers te beperk wat te eniger tyd toegang daardeur kon verkry. In die 1ste eeu VHJ is die bolwerke weereens uitgebrei en die hekke deur middel van klipelemente en ’n ingewikkelde reeks buitemure versterk. Buitenste gragte en skerpgemaakte houtpale het ekstra beskerming gebied aan wat volgens Ystertydperk-standaarde ’n formidabele vesting was. Tekens van rondehuise en opslaggeboue doen aan die hand dat die bevolking van die fort op die hoogtepunt daarvan minder as ’n 1 000 was, en dat hulle afhanklik van die omliggende boeregemeenskappe was. Derhalwe was dit eerder ’n protostedelike terrein as ’n werklike dorp. Vondse van aansienlike voorrade klip vir slingergeskut herinner aan die terrein se primêre funksie as ’n plek van defensiewe oorlogvoering.

Ongelukkig vir die plaaslike bevolking was die verdedigingswerke van Maiden Kasteel nie opgewasse teen die Romeinse leër en die gesofistikeerde wapens van Romeinse belegoorlogvoering nie. Die fort is in 43 HJ ingeneem, waarskynlik deur legioene onder bevel van die toekomstige Romeinse keiser Vespasianus (r. 69-79 HJ). Die terrein is beslis ’n paar dekades later prysgegee en agtergelaat en soos die lot van vele Keltiese heuweltopforte was, is die plek daarvan in die streek deur ’n nuwe Romeinse dorp – Durnovaria, oftewel Dorchester – ingepalm.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2021, March 08). Oppidum [Oppidum]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-457/oppidum/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Oppidum." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 08, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-457/oppidum/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Oppidum." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 08 Mar 2021. Web. 22 Oct 2021.